Paulus het nie omgegee wat die Jode gedink het nie.
Hy het ook nie omgegee wat die nie- Jode van die
boodskap van Christus dink nie. Hy het eenvoudig
die hele wêreld, álle mense, deur die oë van Jesus
begin sien!

Hieroor skryf hy in Efesiërs 3:1-3 dat hy juis daarom
in die tronk sit! Maar kyk net hoe sien hy dit vanuit sy
eie oogpunt: Hy sê dat hy in die tronk sit vir Christus!
Hy is in die tronk gegooi omdat hy vir die nie-Jode van
Christus vertel het! Hy sê dat God hom gevra het om
vir die nie-Jode te vertel hoe goed God regtig is!
Paulus het ingesien wat God se plan is. Hy wil hierdie
mense red! Al het die mense dit glad nie besef nie.
Inteendeel, hulle gooi Paulus in die tronk oor sy boodskap.
Paulus sien homself egter nie as ‘n gevangene van Rome
nie, maar as ‘n gevangene van Christus! Dit laat hom
heeltemal anders kyk na hierdie mense,
ongeag sy omstandighede!

Christopher Wren was besig met die bou van London se
St Paul’s Cathedral en het twee mans raakgeloop wat
besig was om op die terrein te werk. Hy vra toe aan die
eerste man wat hy besig is om te doen. Die man het
moeg geantwoord: “Ek kap klippe.”
Hy het na die ander man toe gestap en dieselfde vraag
aan hom gevra, waarop die man opgewonde geantwoord
het: “Ek bou ‘n katedraal saam met sir Christopher Wren!”
Albei mans was besig met dieselfde werk. Die een het
homself as ‘n klipkapper gesien. Die ander het homself as
‘n katedraalbouer gesien. Wat ‘n verskil!
Dit is ook waar in die geval van Paulus. Hy sien homself nie
as ‘n gevangene van Rome nie. Hy sien hom nie as
magteloos en oorgelewer aan Rome en die keiser nie.
Hy sien homself as ‘n gevangene van Christus,
aan Wie hy behoort!

Hoe sien jy jouself, ook in jou moeilike omstandighede?
Met watter gesindheid pak jy jou lewe aan?
Selfs in die tronk het Paulus die mense van die tronk
gesien as geleenthede en uitdagings om hulle na die Here
te lei. Hy het hulle nie as vyande gesien nie, maar mense
wat gered kan word. Hoe jy jouself sien sal ook bepaal hoe
jy die mense rondom jou sien, deur jou eie oë, of deur
die oë van Jesus. Kyk anders na die wêreld!
Kyk met die oë wat God jou wil gee vir die wêreld.

Ernest