Maak nie saak wat jy in die lewe doen nie,
onthou dat God jou geroep het om dit vir Hom te
doen. Hy het jou aangestel om in alles wat jy doen,
dit vir Hom te doen! Dink maar aan Kolossense 3:23
wat in die Nuwe Lewende Vertaling so vertaal word:
“Pak alles gemotiveerd aan. Werk soos vir die Here
en nie soos vir mense nie.” Ja, nie eers soos vir jouself
nie. Doen dit wat jy doen vir die Here. Dit maak ‘n
hemelse verskil.

Paulus sê in Efesiërs 3:7-9: “God het my aangestel om
hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ‘n voorreg
wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee
ook vir my krag om dit te doen. Van al die Christene is
ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie
voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my.
Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel
wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ‘n
mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik
en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God
se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af
wat God – wat alles gemaak het – wou doen,
maar mense het dit net nie besef nie.”

Alle mooihede en waarhede wat mense ontdek, en skep,
en bereik, in dit wat hulle doen, word eintlik altyd deur God
aan sulke mense gegee. Of hulle dit nou besef of nie, of wil
erken of nie. Dit is ook wat Paulus in bogenoemde verse bely.
Dit is ‘n belangrike lewensbeginsel om regtig aan God al die
eer te gee vir alles wat ons bereik. Die meeste van ons trek
die eer op onsself, en gee eintlik maar net eervolle vermelding
aan God. Gee jy regtig uit jou hart aan God al die eer?

Die beroemde uitvinder, Samuel Morse, wat onder andere
die telegraaf uitgevind het, het op ‘n keer gesê:
“Ek het waardevolle bydraes gemaak, nie omdat ek beter
as ander mense is nie, maar alleen omdat God, wat dit aan
die mensdom wou gee, dit aan my bekendgemaak het.
Dit is iets soortgelyks wat Paulus hier sê oor die boodskap
wat hy moes verkondig!

Dien die Here só in alles wat jy doen,
dat die mense sien dit is die Here wat dit doen!

Ernest