Een van die treffendste gebede in die Bybel is
Paulus se gebed vir die Efesiërs in Efesiërs 3:14-21.
Hierdie gebed is soos trappe van seëninge!
Voor jy die trappe klim, staan jy as’t ware op die
“fondament” van die gebed. Dit is verse 14-15.
Dit bevestig dat jy familie van God is. Hy is jou
Vader, en jy het jou bestaan aan Hom te danke!

Die eerste trap volg dan in vers 16. Op hierdie
eerste trap lê die krag wat God jou wil gee om
uit te hou en aan te hou. Dat God deur sy Gees
aan ons die krag gee om innerlik sterk te word!

Op die tweede trap, vers 17, lê geloof. Om te
verstaan wat God vir jou gedoen het en steeds
doen. Dat Christus deur die geloof in ons harte
woon en dat ons in sy liefde gewortel en
gegrondves sal wees.

Op die derde trap, vers 18, lê die liefde. Om te
verstaan hoe lief God jou het en hoe jy ander
moet liefhê. Om iets te begryp van hoe wyd en
ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

Op die vierde trap, vers 19, lê die volheid van God.
Dat ons God se liefe sal ken wat ons verstand te
bowe gaan, en heeltemal vervul word met die
volheid van God.

Heel bo, op die laaste trap in verse 20-21, is God,
sodat ons nooit te klein oor God sal dink nie.
Sy krag wat in ons werk is magtig om oneindig
meer te doen as wat ons bid of dink! Daarom kom
aan Hom alleen die eer toe tot in alle ewigheid.

Abraham Lincoln, gewese Amerikaanse president,
het gesê: “Ek is dikwels op my knieë gedwing deur
die oorweldigende sekerheid dat ek nêrens anders
het om heen te gaan as na die Here toe nie.”
Sonder gebed kan ons nie.
Bid gereeld hierdie gebed van Efesiërs,
vir jouself, en vir die mense vir wie jy bid!

Ernest