Ons sal nooit die grootheid van God kan bedink nie.
Jaap Zijlstrahet by geleentheid gesê:
“Vergewe my dat ek in drie letters God sê, en dink
dat ek U daarmee genoem het.”
God is groter as ons grootste denke oor Hom.
Hy verdien al ons lof en aanbidding. En die grootste
lof wat ons aan Hom kan bring is ons aansteeklike
veranderde lewens wat ons leef tot sy eer.
Kyk net wat bid Paulus hieroor in Efesiërs 3:20-21:
“God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk
Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen
waarvan ons nie eers kon droom nie. Hy verdien
daarom al die eer wat die kerk het om te gee,
veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons
gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre
en tot in ewigheid. Mag dit so wees.”
Die Nuwe Vertaling lees so: “Aan Hom wat deur
sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer
te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer
toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus
Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid.
Amen.”
Die woorde, “...deur alle geslagte heen...”, het die
skrywer Lina Spies by ‘n geleentheid hierdie boodskap
in ‘n brief laat skryf aan ‘n kind wat gedoop is:
“Bo alles wat ek vir jou wens, hoop ek dat jy ‘n Christen
sal wees – nie net in naam nie, maar in hart en siel,
sodat jy sal kan sê dat van alles wat jou gelukkig maak,
Christenwees vir jou die lekkerste is. Om tot so ‘n
uitspraak te kom, moet ‘n mens baie vreugdes hê,
baie beleef, baie liefhê. Daarom wil ek dit nou nie
anders sê nie: Van alles is dit vandag vir my die
lekkerste om ‘n Christen te wees.”
Om net te weet dat God se krag wat in ons werk!...
magtig is om oneindig meer te doen as wat ons
bid of dink! Wat ‘n vreugde om kind van God te wees!
Laat ons God eer, nou, môre, en tot in ewigheid!
Ernest