Die Latynse uitdrukking sê: “Ubi Christus,
ibi ecclesia – waar Christus is, daar is die kerk.”
Ons weet Christus is oral! Geen wonder Paulus
roep ons op om nders te wees nie, ja,
om soos Jesus te lewe nie!

Kyk net wat sê Paulus oor hoe ons gemeente
vir die Here moet wees in Efesiërs 4:1-3:
Hy sê hy sit in die tronk omdat hy vir die Here werk.
So ernstig is hy oor sy oortuigings en sy geloof.
Hy vra dat ons as gemeente so moet leef dat God
trots op ons sal wees. Hy het ons immers na Hom toe
geroep. Tog moet ons nie voor op die wa wees nie,
en ander mense so behandel dat dit vir hulle lekker
sal wees om by ons te wees. Wanneer iemand ons
kwaadmaak, of ons irriteer, moet ons beheer oor
onsself hê, deur steeds mooi op te tree teenoor so
‘n iemand. Ons moet in ons liefde vir mekaar lojaal
wees, selfs al voel ons dat ons nou vir eers genoeg
van mekaar gehad het. Die Heilige Gees het van ons
‘n hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees”
en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar.
Ons moet nie toelaat dat enige iets tussen ons kom
wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie.
God is nie verdeel nie.
Lees gerus hierdie verse in Die Boodskap.

Mag die Heilige Gees ons inspireer om so te leef!
Soos die adverstensies van Nike sê: “Just do it!”

Ernest