Daaris baie kritiek op die kerk.
Regverdige kritiek, en onregverdige kritiek.
Een ding moet ons goed weet:
Die Here is baie lief vir die kerk, want die kerk
is sy volgelinge. Hy is die Hoof van die kerk,
en die kerk is sy eiendom. Die kerk behoort aan
die Here. Ons moet einlik in die spieël kyk wanneer
ons so maklik die kerk kritiseer, want ons wie die
Here dien, is die kerk.

In Efesiërs 4:11-13 sê Paulus hierdie wonderlike en
belangrike dinge oor die kerk en gemeente:
“Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om
in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde
gekry om te doen nie. Hierdie mense, met die spesiale
gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te
help en voor te berei om hulle werk as Christene in die
wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van
Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees.
So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer
‘n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer
ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike
grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos
Christus self.”

Wat doen ons wie die kerk en gemeente so maklik kritiseer,
om in die lig van bogenoemde verse, nader aan mekaar te
beweeg, en al hoe meer ‘n eenheid te vorm?

Sir Thomas Beecham, die stigter van die London Philharmonic
and the Beecham Opera Company, het op ‘n keer na ‘n ander
stad gereis om daar as ‘n gasdirigent op te tree. Hy het vinnig
agtergekom dat die simfonieorkes nie baie goed afgerig is nie.
Soos die kleedrepitisie gevorder het, het sir Thomas al hoe
meer gefrustreerd geraak. Uiteindelik, nadat hy die musikante
vir ‘n derde keer op dieselfde plek in die musiekstuk gestop het,
het een van die musikante hewig beswaar gemaak:
“Well, just how do you want us to play?”
Sir Thomas het hom rustig aangekyk en toe voorgestel:
“Together.” Saam! As ‘n eenheid!

Ons krag as Jesus volgelinge lê daarin dat ons één in Jesus is!
Ons het almal die Here Jesus lief, en wil soos Hy leef!
Hierdie visie maak ons één! Ons behoort aan dieselfde Here.
Dieselfde Gees woon en werk in ons! Al hierdie dinge maak ons
sterk as ‘n eenheid. Daarom moet ons nie elkeen sy instrument
op sy eie tyd, en tempo speel nie.
Ons is inderdaad almal mense met foute en tekortkominge.
Maar ons het mekaar nodig en die Here kies om ons almal as
‘n eenheid in sy kerk te gebruik.

Onthou die opmerking van Vance Havner hieroor:
“Snowflakes are frail, but if enough of them get together,
they can stop traffic.”
Kom ons leef ons eenheid uit,
as kinders van die Here!

Ernest