Paulus gaan verder in Efesiërs 4:14-16 om oor
die kerk en gemeente te praat.
Wanneer ons die eenhied in Christus uitleef,
sal ons nie meer soos klein kindertjies onseker
wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie
soos ‘n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger
word, of deur die een wind hiernatoe, en deur die
ander wind daarnatoe gedryf word nie. Ons sal ook
nie na elke godsdienstige praatjie op die mark luister
en maklik verwar word nie. Ons sal in liefde lojaal
teenoor mekaar bly en op die pad van die waarheid groei.
Ons verhouding met Jesus sal in allees net sterker en
sterker word. Ons sal, as sy liggaam, al hoe meer van
Christus afhanklik wees, want Hy is die Hoof van die
liggaam. Die liggaam is deur Hom self aanmekaargesit
soos Hy dit wil hê, elke deel op sy plek, sodat elke
liggaamsdeel sy werk doen en die ander liggaamsdele
help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die
verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar
help.
Ons moet aanhou om geestelik te groei.
God het ons lief net soos ons is, maar Hy het ons te lief
om ons net so te los. Hy kom woon deur die Heilige Gees
in ons, om ons te lei om al hoe meer en meer soos Jesus
te leef. Ons kan nie bly waar ons begin het nie.
Soos die seuntjie wat in die middel van die nag uit sy bed
geval het en toe vir sy ma gesê het dat hy te naby gebly
het aan waar hy ingeklim het.
Ons word volgelinge van die Here Jesus en bly dan daar
waar ons “ingeklim” het. Ons moet groei na waar die Here
ons wil hê.
So groei die liggaam van Christus en word dit sterk!
Efesiërs 4:13 sê: “So sal ons uiteindelik almal kom tot die
werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die
Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide
mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.”
Groei in geestelike volwassenheid!
Ernest