In Efesiërs 4:17-19 sê Paulus:
“Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie.
Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om
julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie.
Daarom besef hulle nie eers dat God vir hulle ‘n nuwe
lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede
of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met
hulle. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of
verkeerd is nie.”

Ons moet anders begin dink! Ons moet as
Jesus-volgelinge begin dink soos Jesus dink.
Dan sal ons ook anders begin optree...
meer en meer soos Jesus.

Daarom sê Paulus in verse 22- 24:
“Los julle ou manier van lewe. Julle moet ‘n nuwe
gesindheid kry en op ‘n nuwe manier oor dinge dink.
Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk:
ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons
heeltemal aan Hom toewy.”
Wanneer ons dit begin toepas, sal ons verseker
die groei na God toe daarin ervaar.

Ons moet onthou:
Die wet van aandag sê jy voel en leef altyd waarop
jy fokus. Hoe meer jy positiewe goed in jou eie lewe
dink, of oor iemand dink, hoe meer begin jy positief
in jou eie lewe en teenoor ander optree.
Die wet van uitruiling sê jy kan ‘n negatiewe gedagte
uitruil met ‘n positiewe gedagte. Dit is net jou eie
keuse. Jy kan dink soos jy wil, of kies om te dink soos
die Here wil. Vul jou gedagtes met God se Woord,
en tree daarvolgens op! Gaan doen dit!

Ernest