In Efesiërs 5:8-11 word beskryf hoe ons nou mense
van die lig is, en moet leef in die lig! Ons was ook eens
op ‘n tyd soos mense wat in die donker geleef het.
Nou dien ons die Here en leef soos mense wat in die
lig kan sien wat ons lewensdoel is. Ons wil leef soos
mense wat niks wil wegsteek nie, en niks het om weg
te steek nie. Ons wil oop en bloot in die lig leef.
Iemand wat so leef is goed vir ander mense en tree op
soos God van ons verwag. Jy staan ook by die waarheid.
Wanneer ons iets doen, moet ons vra of die Here
daarmee tevrede is. Bly weg van mense wat in die donker
konkel. Niks goeds of blywend kom uit ‘n kekonkel nie.
Vers 14 sê ook verder dat ons niks in die lig kan wegsteek
nie, en as dit eers in die lig is, is dit daar vir almal om te sien.
Dit is daarom dat die Skrif sê: “Word wakker, jou slaper;
word lewendig uit die dood, en Christus sal sy lig oor jou
laat val.”
Kom ons leef ingeprop by die enigste ewige Kragbron. God.
Moenie tevrede wees met beurtkrag in jou lewe nie!
Wees 24/7 ingeskakel by God. Sonder Christus leef ons in
die duister. Maar as die lig van Christus op jou skyn, is jy
in staat om sonder vrees te leef en om in die lig te wandel,
saam met God.
Vers 9 sê doen wat goed en reg en waar is.
Vers 10 sê dat jy moet uitvind wat God se hart bly maak.
Vers 11 sê moenie jou tyd mors met waardelose goed nie.
Vers 14 sê word wakker en begin leef!
Die enigste manier om ‘n droom waar te maak,
is om wakker te word, en dit te doen!
Vers 8: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou
in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig.”
Lééf nou...as ‘n mens van die lig!
Ernest