Efesiërs 5:15-16 en 18-20 gee nog praktiese riglyne
oor die nuwe lewe in die Here.
Dit sê dat ons baie versigtig moet wees hoe ons lewe.
Ons moet leef soos mense wat weet wat God van ‘n
sinvolle lewe verwag, en nie soos mense wat niks
daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die
beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want
ons lewe in moeilike en slegte tye.
Vers 18 sê verder dat ons nie te veel moet drink nie,
want dan verloor ‘n mens beheer oor jouself.
Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word.
So prakties soos dit!
Vers 19 sê dat ons moet sing! So leer ons mekaar en
moedig mekaar ook aan met geestelike liedere.
Ons weet hoe ‘n wonderlike belwenis dit is om sommer
net so op jou eie vir die Here te sing. Ons weet hoeveel
dit beteken en hoe dit jou gemoed en gees lig. Doen dit!
Die vers sê: “Sing met julle hele hart vir die Here.”
Die beroemde komponis, JohannSebastian Bach het
bokant sy manuskripte geskryf “JJ”. Dit het gestaan vir
“Jesus Juva” wat beteken “Jesus help my”. Aan die einde
van elke manuskrip het hy geskryf “SDG” wat gestaan het
vir “Soli Deo Gloria”, wat beteken “Aan God alleen die eer.”
Sal ons dit nie ook oor ons lewe wil skryf nie.
Dankbaarheid is net so belangrik om jou perspektief te
gee op jou lewe. Leef dankbaar!
Vers 20 sê: “Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader,
baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan
Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om
dit te doen.”
Mag ons singende en dankbare mense wees,
wat die beste gebruik maak van elke geleentheid,
en ander mense in die lig van Jesus sien.
Mag ons bid “Jesus help my”,
en mag ons vra: “Is dit tot eer van God?”
Leef die nuwe lewe!
Ernest