Paulus was vir ‘n lang tyd dag en nag in die tronk
vir sy geloof in Jesus Christus.
In hierdie tyd was hy ook vasgeboei aan ‘n soldaat.
Nou gee Paulus ‘n Christelike interpretasie aan die
wapenrusting van die Romeinse soldaat.
Hy sê van Efesiërs 6 vers 11 af dat ons die volle
wapenrusting van God moet aantrek. Dan sal ons op ons
pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.
Hy gee die belangrike perspektief dat ons stryd nie teen
vlees en bloed is nie, nie teen mense nie, maar teen elke
mag en gesag en elke gees wat heers oor hierdie sondige
wêreld. Teen elke bose gees in die lug.
In verse 14-17 onderskei Paulus die wapenrusting. Hy sê:
“Bly dan op julle pos, toegerus met die waarheid as gordel
om julle heupe, die vryspraak van God as borsharnas,
en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig
as skoene aan die voete. Daarby moet julle altyd geloof as
skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle
van die Bose kan afweer. Sit verlossing as helm op en vat
die swaard van die Gees, dit is die Woord van God.”
Die gordel van waarheid beteken om die waarheid te leef
en te praat.
Die borsharnas van vryspraak beteken jy is vrygemaak deur
God om ‘n lewe vir Hom te leef.
Die skoene van bereidheid beteken om die evangelie uit te
leef met jou hele lewe as getuienis.
Die skild van geloof beteken dat geloof jou beskerm en dra.
Die helm van verlossing beteken dat Jesus jou ‘n verlede
gee met vergifnis, ‘n hede saam met Hom, en ‘n ewige
toekomsverwagting saam met Hom.
Die swaard van die Gees is die Woord van God wat jy lees,
oordink, laat deel word van jou lewe, en uitleef tot eer van God.
So veg jy vir die koninkryk van God en oorwin saam met Jesus!
C. S. Lewis het gesê: “There is no neutral ground in the universe:
every square inch, every split second is claimed by God,
and counterclaimed by Satan.” Veg vir en saam met God.
Ons weet ons is in die triomftog saam met Jesus!
Die oorwinningstog!
Ernest