Wanneer ons die wapenrusting van God aantrek,
is ons tot die tande toe gewapen!
Hoe moet ons nou veg? Paulus sê: biddend!

In Efesiërs 6:18 sê hy: “Doen dit alles biddend
en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.
Wees waaksaam en bid gedurig...”
Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees
jou elke keer in gebed lei. Bly in alle omstandighede
op jou hoede en bid vir almal wat aan God behoort.

Paulus beklemtoon die belangrikheid van gebed.
Gebed is vir die gelowige soos om asem te haal.
Jy kan nie daarsonder vir God leef nie!

Robert Farrar Capon het dit baie goed verduidelik:
Gebed is nie om na God toe te gaan nie –
Hy is alreeds in jou.
Gebed is nie om God te soek nie –
Hy het jou reeds gevind.
Gebed is nie om jouself vir God oop te maak nie –
al probeer jy hoe hard gaan jy Hom nie uithou nie.
Gebed is nie om “geestelik” te word nie –
Hy het reeds die Gees na jou gestuur om Jesus
vir jou te wys.
Gebed is eenvoudig om met God te praat,
wat eerste en alreeds met jou praat!

Leef in en met gebed. Doen alles biddend,
in deurlopende gesprek met God. Dit is Lewe,
met ‘n hoofletter! Jesus wat in jou lewe!

Ernest