Dit is baie sleg as ander mense jou nie ernstig opneem
as jy oor die Here praat nie. Dit het met Lot gebeur in
Genesis 19. Vers 14 sê: “Lot het toe vir sy aanstaande
skoonseuns gaan sê: “Kom uit hierdie plek uit, want die
Here gaan hierdie stad verdelg.”

Daardie dag toe Lot sy familie gaan waarsku het om pad
te gee uit Sodom, het hulle gedink hy maak ‘n grap.
Lot moes daardie dag die Here se boodskap van oordeel
oordra, maar die mense die naaste aan hom, sy eie geliefdes,
het hulle nie aan hom gesteur nie. Dit is ‘n tragedie.

Hoekom het dit gebeur? Was dit dalk omdat Lot so ‘n slegte
getuie vir die Here was, dat sy familie hom nie ernstig
opgeneem het as hy sê dat hy ‘n boodskap van die Here af
het nie?

Dit is sleg as mense dink jy maak grappies as jy ernstig oor
die Here praat. Hulle sien dalk net mooi die teendeel in jou
lewe raak. Hulle hoor jou taalgebruik, of hoe jy skinder.
Hulle sien moontlik jou liefdeloosheid teenoor mense en
selfs teenoor mense naby aan jou. Dalk staan hulle verstom
oor hoe min goeie woorde jy vir ander mense het. Of hulle
sien geen deernis by jou vir mense rondom jou nie.
Daarom neem hulle jou godsdienstige praatjies met ‘n
knippie sout. Of hulle lag dit gewoon af.
Want dade spreek op die einde harder as woorde.

Leef so dat jy ernstig opgeneem word as ‘n getuie van die Here.
Sorg dat jou woorde en jou dade in pas is met mekaar.
Dit is soms verstommend om te hoor hoe iemand die Here op
‘n Sondag in die kerk loof, en hoe dieselfde mond in die week
met mense praat. Dit trek ‘n streep deur al jou getuienis.
Praat reg oor die Here en leef ook wat jy sê jy glo. Dan sal mense
jou ernstig opneem as jy getuig.
Selfs al glo hulle nie in die Here nie, sal hul steeds weet jy is opreg!
Wees ‘n betroubare getuie vir die Here.

Ernest