Ons kan as gelowiges partykeer in baie moeilike
omstandighede beland. Kyk net wat gebeur met Abraham.
Hy maak asof sy vrou Sara sy suster is toe hulle in koning
Abimelek se gebied was. Later moes Abimelek deur
‘n engel in ‘n droom verneem dat Sara eintlik Abraham
se vrou is! Die koning was baie ontsteld.
Gelukkig kon hy en Abraham die saak uitpraat.
Nadat Abimelek vir Abraham met geskenke oorlaai het,
het Abraham ook op sy beurt ‘n “geskenk” aan die koning
gegee. ‘n Gebed!
Genesis 20:17: “Abraham het toe tot God gebid en Hy het
vir Abimelek gesond gemaak...” Abraham het gebid dat die
Here vir Abimelek en sy vrou en ook al die slavinne sal
gesond maak en weer al die vroue in sy huishouding in
staat sou stel om kinders te kon hê. Toe gebeur dit ook!
Ons dink nie so daaraan nie, maar gebed is eintlik die
grootste geskenk wat jy vir iemand kan gee. Wanneer jy
jou eie spesiale tyd met God doelbewus wy aan die nood
en welstand van iemand anders, dan doen jy regtig groot
dinge vir daardie persoon! Moenie dit onderskat nie.
Besef wat die krag van gebed is en hoe jy ander mense
in gebed kan dra. Dit is ook hoe God wil werk,
deur ons gebede. Gebed verander die wêreld.
God wil ook hê dat ons moet aanhou bid sonder om
moedeloos te word. Jesus het ‘n gelykenis vertel om dit
te beklemtoon, in Lukas 18:1:
“Jesus het vir hulle ‘n gelykenis vertel om duidelik te maak
dat ‘n mens altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos
te word.”
Volhard daarin om mense in jou gebede as’t ware na God
toe te dra. Tel vandag iemand op jou skouers as jy na God
toe gaan in gebed.
Ernest