God hou sy beloftes en gaan nooit terug op sy
woord nie. Wanneer God beloof, doen Hy dit.
Al lyk dit vir ons totaal onmoontlik.
So het dit ook in die lewe van Sara gebeur.
Genesis 21:1 sê: “Die Here het aan Sara gedink
soos Hy beloof het.” Sy was al moeg gewag op
‘n kind. Sy was al oud en afgeleef.
Al die natuurwette was teen haar om ‘n kind te
kon hê. Maar God hou sy belofte en sien haar
in genade aan. Hy gee vir haar ‘n kind!
Al het sy gelag toe God die belofte gemaak het,
en gedink dit sal onmoontlik wees. God laat Hom
nie beperk deur natuurwette nie.
Hy het dit geskep!
God is ook altyd betyds met sy beloftes.
Sy tyd is die regte tyd. God se goedheid is nie te
laat nie. Dit is ons wat dink ons tyd is die beste
en dan raak ons ongeduldig en moedeloos.
Ons moet leer om op God te wag. Sy tyd is reg.
God gee altyd tydig sy goedheid en deernis aan ons.
Het jy al geleer om ook te wag op God se goedheid?
Het ons al geleer om geduldig op die uitkyk te wees
vir gebedsverhoring? Totdat ons gebed beantwoord is?
Skep vandag weer moed daarin dat God jou nie vergeet
nie, en dat sy tydsberekening vir jou nie uit is nie!
God is ook die Rots by Wie jy kan skuil totdat Hy hemel
en aarde beweeg het om sy goedheid aan jou te bewys.
Ernest