Een van die grootste getuienisse van God se sorg
en voorsiening is seker die gebeure in Abraham se
lewe toe hy vir Isak moet gaan offer!
Het die Here al iets baie groot van jou gevra,
soos om jou kind te gaan offer?
Wat moes jy al opoffer om Hom te volg?
Wat het jou geloof jou tot nou toe gekos?
Die verhaal van Abraham wat Isak moes gaan offer
aan God, laat ons hieroor nadink. Dan besef ons dat
geloof ons eintlik nog min gekos het.
Wat sou jy doen as God jou sou vra om jou geliefde
kind te gaan offer. Ons sal ons seker doof hou en
botweg weier, en selfs sê dat God nou totaal geen
sin maak nie. Abram het nie een van die opsies
uitgeoefen nie. Hy het sy kind Isak gevat om hom
te gaan offer. Abraham het Isak uiteindelik op ‘n
offeraltaar vasgemaak om hom aan die Here te wy.
Op daardie einste oomblik het die Here Abraham
gekeer om dit te doen en vir hom gesê:
“Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om
jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”
Genesis 22:14 sê: “Toe noem Abraham die plek:
“Die Here voorsien.”
Abraham se daad is seker een van die grootste
getuienisse van geloof in die geskiedenis van die
mensdom. Geen wonder dat Abraham die vader
van alle gelowiges genoem word nie.
Maar wat van ons? Sal ons nie vandag in Abraham
se voetspore stap deur God onvoorwaardelik te
vertrou nie? Kom ons waag dit in geloof met die
God van die heelal! Verwag inderdaad die
onmoontlike van Hom, selfs al vra Hy hoe ‘n groot
offer van jou. En kyk dan wat gebeur...
Augustinus het gebid: “Here, gee my die krag om
te doen wat U van my vra;
en vra dan van my net wat U wil.”
God sal vir alles sorg en voorsien wat Hy van jou vra.
Ernest