Isak moes ook eers die God van sy vader Abraham
persoonlik ontmoet voordat hy hom begin aanbid
en volg het. God neem natuurlik die inisiatief en
kom na Isak toe in Gebesis 26:24 met die woorde:
“Ek is die God van jou vader Abraham. Moenie bang
wees nie...”

Isak moes God ook eers van aangesig tot aangesig
ontmoet het voordat hy van harte in Hom begin glo.
Dit het een nag daar in Berseba gebeur toe die Here
Hom daar aan Isak openbaar het. Daar kon Isak die
aangrypende trooswoorde hoor wat regdeur die Bybel
weerklink: “Moenie bang wees nie...”

Die Here is by jou, moenie bang wees nie! In reaksie op
die Here se openbaring het Isak daar en dan ‘n altaar
gebou ter ere van die Here. Maar nog belangriker:
Sy hele lewe daarna was ‘n lewende bewys dat die Here
in sy lewe teenwoordig is en dat hy die Here volg en
aanbid.

Selfs ander mense kon dit duidelik raaksien.
Belangrike mense van die omgewing het sommer kort
hierna reguit vir Isak kom sê: “Ons het baie duidelik
gesien die Here is by jou.” – Genesis 26:28.
Wat ‘n getuienis van die Here se teenwoordigheid en
groot krag in Isak se lewe!

As jy die Here persoonlik ontmoet het, lyk jou hele
lewe anders. Jy dink anders, praat anders, doen anders.
Die Here is eenvoudig sigbaar in jou lewe. Dit kan nie
anders nie, want Christus leef nou in en deur jou.
Dan rig jy met jou hele lewe orals altare vir die Here op
deur alles wat jy sê en doen. Dan kan dit ook nie anders
nie as dat jy mense rondom jou bereik ter wille van
die Here. Jy is ‘n lewende getuie. Sout. Suurdeeg. Lig.
Gan wees dit en doen dit...sodat mense kan sê:
“Ons het baie duidelik gesien die Here is by jou”

Ernest.