Wat is die belangrikste belegging wat ons
in ons kinders kan maak? Dit is om vir hulle
te bid en hulle na die Here te lei. Maar alles
begin by gebed. Ons kan selfs vir ons kinders
bid nog voor hul geboorte!

Om kinders groot te maak is geen grap nie.
Geen wonder Rebekka, die ma van Jakob en Esau,
het in Genesis 25:22 “die Here gaan raadpleeg” nie!
Kinders gee ouers soms grys hare. Maar hulle is ook
een van die grootste vreugdes waarmee God ouers
seën. Hulle bring vreugde en pyn...

In Rebekka se geval was daar al vroeg-vroeg pyn en
wroeging oor haar kinders. Die Bybel sê hulle was al
voor geboorte aan’t stoei in haar baarmoeder.
Rebekka gaan bid oor haar kinders. Toe wys die Here
vir haar dat haar seuns se nageslagte uiteindelik twee
groot volke gaan word wat heeltyd teen mekaar sal
skuur en stamp.

Rebekka het egter die heel belangrikste vir haar
kinders gaan doen: sy bid. Sy raadpleeg die Here
ten opsigte van haar kinders. Die belangrikste wat
ouers vir hulle kinders kan doen is om vir hulle te bid.
Die Here luister na ouers se gebede. Hy het kinders
aan ouers toevertrou om die kinders na Hom te begelei.
Die Here gee om vir kinders. Baie!

Maak vandag en elke dag tyd om vir jou kinders en
kleinkinders te bid. Indien jy nie kinders van jou eie
het nie, bid vir iemand anders wat jy ken se kinders.
Deur ons gebede verander God ons kinders, en vir ons!
Gebede is lewenslange beleggings in ons kinders.
Belê vandag ruim in die lewe van jou kinders en
kleinkinders en bou so aan die koninkryk van die Here!

Ernest