Ons sal nooit die kosbaarheid van die Here se
seëninge kan bereken nie. Dit is onmoontlik.
Dit is so kosbaar dat ‘n Jakob enige iets sou doen
om dit te kry... Hy sou dit selfs onregmatig voor
sy broer wegraap! Hy was bereid om selfs sy broer
te verneuk om voor in die ry te kon staan toe hulle
pa seën uitgedeel het. Dit was gladnie reg wat Jakob
gedoen het nie.

Ons weet ook ons kan nie God se seën verdien nie.
Op geen manier nie.
Die Here se seën sluit baie dinge in wat ons konkreet
kan sien en beleef:
gesondheid, werk, vriende, kosbare familie, eiendom,
en nog baie ander konkrete dinge wat ons kan waardeer
in sy skepping. Dit is te veel om op te noem.
Elke stukkie genadebrood wat ons elke dag kan eet...
Dan is daar ook nog die seëninge van die Gees wat daar
in die hemel is, en wat ons reeds ontvang! Lees gerus
daarvan in Efesiërs 1.

In Genesis 27:28 staan daar:
“God gee aan jou dou uit die hemel...”
Hoe ‘n wonderlike teken is dit nie van God se voorsiening
aan ons nie. Die voorreg om elke oggend ons oë oop te
maak en sommer kaalvoet in die dou te gaan loop. Om die
gelag van kinders te hoor. Die trooswoorde van ‘n vriend.
‘n Onverwagse glimlag. Alles seëninge.
Tel weer ‘n slag jou seëninge!

Die grootste seëning ooit is om in die teenwoordigheid
van die Here te kan leef! By Hom is ek ‘n geseënde,
ongeag my bankrekening, of my gesondheid, of wat ookal
waaraan ek onbewustelik meer waarde heg as sy
teenwoordigheid in my lewe.
Die hemelse Vader weet immers beter as ek wat ek nodig
het.
En Hy skenk meer as wat ek kan bid of dink.

Ernest