In Genesis 28:16 sê Jakob: “Die Here is op
hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”
‘n Mens kan baie jare God-loos en goddeloos lewe.
Jy kan heel goed op jou eie regkom. Baie mense
leef hul lewe lank so en sterf so. Jy dink deur jou
harde werk kan jy self brood op die tafel sit. En vir
God kan jy vir alle praktiese doeleindes buite die
prentjie laat.
Dit is ook wat met Jakob gebeur het. Totdat hy een
nag op pad na Haran toe op ‘n klip lê en slaap het.
In sy droom het hy hom skielik in God vasgeloop.
Hy droom hoe engele op en af teen ‘n leer klim wat
tot aan die hemel reik. Om alles te kroon kom staan
God toe by hom en praat met hom. En dit nogal in
trooswoorde. Jakob kon sommer hoor dat God met
hom saamstap en dat Hy hom sal beskerm oral waar
hy gaan.
Na hierdie ongelooflike droom het Jakob wakker geskrik.
Letterlik uit sy slaap. En in sy nuwe lewe in! Hy het besef
dat God by hom is, of hy dit wil weet of nie,
en sy belydenis volg: “Die Here is op hierdie plek, en ek
het dit nie besef nie.” Wat ‘n lewegewende ontdekking
om te maak!
Ons kan maklik dieselfde fout as Jakob maak deur nie te
besef dat die Here jou hele lewe in sy hand hou nie.
Jy dink jy sit deur harde werk brood op die tafel.
Maar wie laat jou asemhaal, jou hart klop, jou gesond
opstaan? Wie voorsien die werk? Wie gee jou krag om
te werk? Wie voorsien jou ondersteuningsbasis?
Mense dink maklik dit is deur hul eie krag en toedoen dat
hulle lewe en werk. Wat ‘n fout is dit nie om so te dink nie,
en dit eers laat in jou lewe uit te vind, en soveel van die
ware lewe te mis!?
Want alles wat jy het en wie jy is, in die goeie sin van die
woord, is aan die Here te danke! Hy is oral, ook by jou!
Jy weet nie eers hoeveel keer het Hy jou al gered van
gevaar nie, of van ernstige siekte. Hoeveel geleenthede
het Hy al vir jou gegee nie. En hoeveel geliefdes en ander
mense in jou lewe. Jy besef nie dat jy elke sekonde van sy
krag afhanklik is nie. Sonder God se voorsiening sal die
ganse heelal tot stilstand kom. Hoeveel te meer sorg Hy
nie vir jou in detail nie.
Waarlik, is dit so belangrik, om net weer te onthou wat
die Here Jesus hieroor in Matteus 5:3 gesê het:
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Goddank God is hier...by jou!
Ernest