In die Bergrede in Matteus hoofstukke 5-7 is Jesus self
as die Seun van God aan die woord. Nêrens is daar ‘n
hoër en meer finale Woord van God aan die mens nie.
Matteus 5:1-2 onderskei twee groepe mense rondom
Jesus: die menigte, en sy dissipels.
Die menigte mense was die nuuskieriges, bewonderaars
en belangstellendes. Hulle was dikwels die sensasiesoekers
waarvan Matteus 4:23-25 praat.
Die dissipels aan die ander kant was mense wat die
roepstem van Jesus gehoor het: “Bekeer julle” en “Kom hier,
kom saam met My.”
Hulle het gehoor gegee en ‘n besluit geneem wat hulle
lewens radikaal verander het.
Die vraag is dus of jy al die Here opreg gehoor het en die
besluit geneem het wat jou lewe radikaal verander het?
Lees jy nou verder die laaste vers van Matteus 4 en die
eerste twee verse van Matteus 5, word dit duidelik dat die
Bergrede in die eerste plek vir die dissipels van die Here Jesus
bedoel is. Wie die Bergrede probeer leef sonder dat jy ‘n
dissipel van Jesus is - sonder dat Hy jou Verlosser, Here en
Koning is – sal dan ook bedroë daarvan afkom.
Dit is juis daarom dat Jesus dissipels roep. Hy wil deur hulle by
die menigte uitkom. Daarmee leer Jesus ons ‘n belangrike les.
Sy metode om by die “menigte” uit te kom is ménse! Ons!
Christene wat inderdaad leef soos mense wat gered en geroep
is om as volgelinge van Jesus te leef.
Christene wat die evangelie leef!
Mense moet in óns lewe sien dat die evangelie inderdaad ‘n
krag van God is wat van sondaars nuwe mense maak!
In die Bergrede vind ons dan ‘n samevatting van hierdie eise
wat Jesus stel vir dissipelskap. Jesus begin dan deur ‘n
karakterskets te gee van mense wat sy volgelinge is. Jesus
begin die beskrywing van elke karaktertrek van sy volgelinge
met die woorde: “Geseënd is...” – Matteus 5:3.
Besef vandag eenvoudig net weer hoé geseënd jy is om ‘n
geseënde van die Here te wees! Dink daaroor na...
Bid daaroor en dank die Here daarvoor dat Hy jou sy volgeling
gemaak het en dat jy geseënd is...!
Ernest