Jesus begin die beskrywing van elke karaktertrek
van sy dissipels met die woorde: “Geseënd is...”
Wat beteken die woord “geseënd”?
In die Bybel word die woord gebruik om die lot te
beskrywe van mense wat die guns van God geniet.
Dit is die teenoorgestelde van die vreeslikste woorde
in die Bybel: “Verlore”, en “vervloek”.

Die geseëndes is die mense wat deur die kruisdood
van Jesus Christus en geloof in Hom as Verlosser en
Here gered is van verlorenheid. Die volle seën word
deur die verlostes ervaar wanneer hulle uit hierdie
lewe oorgaan na die ewigheid:
“Geseënd is dié wat van nou af in die Here sterwe.”
– Openbaring 14:13.

Maar nou baie belangrik: Geloof in Jesus Christus
bring my nie maar net eenmaal in die hemel nie.
Dit bring noú al die hemel in my hart! Om “geseënd”
te wees beteken om in die regte verhouding met
God te leef. Sonder God is daar geen seën nie en
geen ware en blywende geluk nie. Die mens wat nie
die Here Jesus as Verlosser en Here ken nie, bestaan
net. So ‘n mens het nog nooit werklik in die ware sin
van die lewe gelééf nie!
Die geseënde mens hoef dus nie, soos ander, gedurig
te soek na plesier en geluk nie, want jy het al die
“plesier” of “geluk” wat elke mens na begeer in jou
binneste. Jy het die sin van die lewe en die vreugde
en vrede wat daarmee saamloop as genadegawe
ontvang deur die verdienste van jou Verlosser en
Here aan die kruis.

Is dit al waar van jou? Is jy só ‘n geseënde?
Die Here bedoel dit ook vir jou!
Die innerlike van die hart is belangriker as die uiterlike.
Voordat die Here vra: “Watter soort lewe leef jy?”,
vra Hy “Watter soort mens is jy?”

Ernest