“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
– Matteus 5:3.
Lukas het gesê: “Geseënd is julle wat arm is...” Ons moet
Lukas se weergawe nie verkeerd verstaan nie. Stoflike
armoede waarborg nie dat ek binne-in die koninkryk van
God is nie. Net so min as wat materiële rykdom sonder
meer beteken dat iemand verlore is. Die Bybel leer nêrens
dat armoede ‘n deug en rykdom ‘n ondeug is nie.
Arm mense kom nie in die hemel net omdat hulle arm is nie,
en ryk mense gaan nie verlore net omdat hulle ryk is nie.
‘n Arm mens kan net so materialisties wees as ‘n ryk mens,
en andersom. Jou goed kan jou god word, of dit min of baie is.
Ons word alleen gered op grond van die soenverdienste van
Jesus Christus en ons geloof in Hom as Verlosser en Here.

Die “armes” van Lukas 6:20 is mense wat hulle geestelike
armoede ontdek het. Die mens kan absoluut niks aanbied om
sy saligheid te verdien nie. Voor God staan ons met leë hande
soos bedelaars. Dit geld ons geestelike nood, sowel as ons
stoflike behoeftes.

Die eerste karaktertrek van ‘n volgeling van Jesus is dus,
volgens Matteus en Lukas se aanhaling van Jesus se woorde,
om jou geestelike armoede voor God te ontdek! Dit is om te
weet hoe absoluut totaal afhanklik ek van God is. Ek...persoonlik.
Hierin word ek gestroop van enige vorm van hoogmoed. Dit is
belangrik dat Jesus hierdie eienskap voorop plaas in sy
saligsprekinge. Wie nie hiér begin met Christen-wees nie,
het nog nie Christen geword nie! Die besef hoe groot jou sonde
en ellende is, is die eerste tree op pad na verlossing in die Here.
Dit is ook die Heilige Gees wat jou hiervan oortuig.
Dit is onmoontlik om op enige ander manier in die koninkryk van
die hemel in te kom.

Ontdek weer ‘n keer hoe afhanklik jy van God is. Dink daaroor na...
Bid daaroor. Soek regtig die aangesig van die Here daaroor.
Gaan leef dan doelbewus afhanklik van God, vir alles in jou lewe.
Moenie dink jy sal sorg en waar jy nie meer kan nie, daar sal jy God
se hulp begin inroep nie.

“Hulle wat God en alle ander dinge het, het niks meer as hulle wat
net vir God het nie.” – C.S. Lewis.
Ons is totaal afhanklik van God vir alles! Net in God, het jy alles.

Ernest