Wat beteken dit as Jesus sê: “Geseënd is dié wat weet
hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort
die koninkryk van die hemel”?
Wat beteken “...aan hulle behoort die koninkryk van
die hemel”? Wat bedoel Jesus daarmee?
Hoe is dit moontlik?
Dit gaan om die koninkryk van die hemel, en geen aardse
ryk nie. In die koninkryk van die hemel kom jy nie sonder
om opnuut gebore te word nie – Johannes 3:3.
Hierdie wonderwerk van God se genade begin juis by die
besef hoé afhanklik jy van God is!
Wat Jesus met “die koninkryk van die hemel” bedoel,
maak Jesus self duidelik in sy gebed wat Hy ons leer bid!
“Ons Vader wat in die hemel is...laat U koninkryk kom;
laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
Die koninkryk van die hemel is daar waar God se wil geld
en gedoen word. So is dit op die aarde in die lewe van sy
kinders, hoewel nog op onvolmaakte wyse.
Juis daarom leer Jesus ons om daarvoor te bly bid.
So sal dit volmaak wees as Jesus weer kom.
Wanneer die Koning kom, het die koninkryk ook gekom.
Filippense 3:20 sê dat ons burgers van die hemel is,
en daarom behoort die koninkryk van die hemel ook aan
ons wat glo. In Openbaring 3:21 sê Jesus: “Elkeen wat die
oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit,
net soos Ek ook die oorwinning behaal het en saam met my
Vader op sy troon gaan sit het.”
Geestelike bedelaars, mense wat regtig besef hoé afhanklik
hulle van God is, ontvang só die belofte dat hulle eendag
saam met Christus sal regeer. Geestelike bedelaars,
wat afhanklik van God lewe, word nou Koningskinders,
erfgename van God, en mede-erfgename van Christus.
God maak van mense wat totaal afhanklik van Hom lewe...
konings! Geseëndes! Gaan lééf afhanklik van God,
as sy geseënde!
“Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Ernest