Jesus sê in Matteus 5:4: “Geseënd is dié wat treur,
want hulle sal vertroos word.”
Ons het almal een of ander tyd vertroosting nodig.
Ons ken hartseer, pyn, teleurstelling, verlies, en ons
treur ook oor die sonde waarmee ons sukkel.
Dalk voel jy vandag onbesorg en vrolik. Maar jy weet
ook dat pyn deel van die lewe is.
Met wie praat Jesus hier? Almal kwalifiseer nie vir
hierdie saligspreking nie. Die geseënde treurendes
staan eweneens onder die eerste saligspreking wat sê
“geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is...”
Mense wat sonder God treur is troosteloos. As twee
mense dieselfde doen is dit nog nie dieselfde nie.
Kain en Abel het altwee geoffer. Maar die offer was nie
dieselfde nie. Die Fariseër en tollenaar het albei in die
tempel gaan bid, maar is verskillend deur Jesus beoordeel.
So is dit ook met treur.
Die vraag is hoe God in jou treur tuiskom?
Die treurendes van Matteus 5:4 is mense wat by God huil.
Al huil hulle soms óór God, soos in Psalm 77:11, wanneer
ons nie verstaan waarom God skynbaar nie iets aan ons
hartseer doen nie. Maar steeds sê ons dit vir God.
Toe Jesus hierdie kort plofbare saligspreking uitgespreek het,
het Hy verby mense se uiterlike vrolikheid en voorkoms gekyk.
Hy het die pyn diep in hulle harte geken. Hy het geweet waar
die pyn vandaan kom. En die heel beste nog: hy het geweet
wat om met die pyn te maak. Dit geld ook vir jou persoonlik.
Dikwels wil God hê ons hartseer moet eers verdiep voordat
dit verlig kan word. Soos ‘n sweer wat eers oopgesny moet
word voordat dit kan genees. Daardie dieper snit is die
genesende snit. God wil ons by die grondoorsaak van die pyn
en hartseer bring sodat dit werklik kan genees.
Die ou mens treur net oor sy eie verlies. Die nuwe mens in
Christus treur ook oor God se verlies. Dit kan veral geld as ons
treur oor die effek van sonde in ons lewe.
Dit is die wins van opregte hartseer voor God. Dit is reinigend.
Dit is louterend. Dit word die bron van vreugde wanneer jy
afhanklik van God treur. Dan is dit geseënd.
Geseënd is dié wat afhanklik van God treur...want hulle sal
vertroos word. Soek en vind die teenwoordigheid van die
Here in jou hartseer. Hy vertroos jou, verseker,
deur die Heilige Gees wat in jou woon en die Trooster is.
Ernest