“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”
– Matteus 5:4.
Omdat ons nie daarvan hou om te ly nie, soek ons genesing.
Ons wil nie treur nie. Ons soek genesing op baie verskillende
en soms eienaardige maniere. Party raak heftig en woedend.
Hulle blameer ander. Of hulle soek vergelding. Ander word
bitter. Nog ander word kluisenaars. Hulle is bang om weer
seer te kry. En intussen word hulle lewe eintlik onophoudelike
pyn. Ontvlugting kan nie vermyding wees nie.
Ons wil dikwels ook raad gee met kitswoorde soos:
“tyd heel wonde”, “elke donker wolk het ‘n silwer randjie”,
“elke huis het sy kruis”, “daar is mense wat swaarder kry as jy”.
Ons sê dit vir mekaar omdat ons nie weet wat om anders te sê nie.
Ons is onbeholpe met die treurendes. Uiteindelik leer ons af om
sinvol te ly, en treur en ly ons sonder God.
Mense luister as Jesus praat. Want Hy praat anders.
Hy sê byvoorbeeld nie maar net: “Julle arme mense met julle
stukkende harte” nie.
Hy sê: “Julle gelukkige geseënde mense wat hartseer is!”
As iemand só anders praat oor hartseer, só rewolusionêr praat
oor treurendes, dan luister mense!
Coenie Burger sê daar is ‘n onverwagte bekoring in hierdie woord
van Christus,...“geseënd is die wat treur...”, wat maak dat jou hart
nog ‘n rukkie daarna wil luister, om sin te kry in dit wat gebeur.
Om te ervaar wat God vir jou daarin wil gee om jou te troos.
Die geluk of vreugde van die hartseer lê in die troos wat ‘n mens
by God kan kry! Dit opsigself is seën!
Jesus sê dus ‘n gebroke hart wat by God troos kry, kan homself
gelukkig en geseënd ag. Jesus kom bied iets aan wat mense nie
vir mense kan gee nie:
God se troos. Dit is geseënd.
Dit is van God, ook vir jou, in jou hartseer.
Ernest