“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” -
Matteus 5:4.
Die Griekse woord wat hier vir “troos” gebruik word,
is ‘n ewe sterk woord as dié wat vir “treur” gebruik word.
Waar “treur” ‘n hartverskeurende woord is, is “troos” ‘n
genesende woord. Die woord beteken bystand en
ondersteuning, en óók, verrassend, hou dit die betekenis
in van uitnodiging na ‘n fees!
God verwelkom nie net die berouvolle sondaar terug wat
treur oor sonde nie, maar behandel hom soos ‘n eregas.
Dink maar aan die gelykenis van die verlore seun.

Wat Jesus sê, is nié dat ‘n mens outomaties geseënd is
omdat jy hartseer is as gevolg van sonde, of verlies,
of teleurstelling, of wat ookal nie. Nee.
Jy is geseënd omdat jou hartseer jou by God kan bring!
Omdat jou hartseer jou by die Trooster, die Heilige Gees
kan bring. Nie alle hartseer mense is geseënd nie.
Baie mense bly in hartseer tot die dood toe ongelukkig
omdat hulle nie die troos waarvan Jesus praat ontdek
het nie. Soos Kain wat erg bedroef was, maar nie vir God
toelaat om sy trooster te wees nie. So ook Esau, en Judas,
en die ryk jongman. Nie elkeen wat treur word vertroos nie.
Dit hang af waar en hoe jy treur. Waar jy jou troos gaan soek.

Ook hier gaan dit dus oor ‘n keuse waarin jy self moet kies of
jy gelukkig en geseënd wil en gaan wees. Of jy by God gaan
neem wat Hy wil gee. Of jy saam met Job vir God wil sien!
Of jy saam met die Hebreër skrywer die Onsienlike wil sien.
Of jy saam met Paulus lofliedere in die tronk wil sing.

Droefheid en vreugde word dikwels in die Bybel in dieselfde
asem genoem, soos in Spreuke 14:13, Psalm 30:6 en 12.
In God se koninkryk verloop dinge net eenvoudig anders.
God se kinders ís ánders. Wat vir wêreldse mense onmoontlik
klink, selfs belaglik, is vir God se kinders moontlik. Want hulle
het God leer ken. En die Trooster woon in hulle!
Trooster – dit is die titel wat Jesus in Johannes 14 vir die
Heilige Gees gee. En dit is waaroor dit in die lewe van God se
kinders gaan. Hulle het die Heilige Gees in hulle lewens!
Hy help ons treur. Ons vlug of ontvlug nie van hartseer af
weg nie. Ons soek en vind God ook daarin. Ons leer om te huil,
ook saam met God oor ons sondehartseer, en ons leer om
vertroos te word.

Die Trooster gee ons ook hoopvolle hartseer, en hartseer met
‘n toekoms. Want jy weet jou toekoms is by God!
God se passie is om heel te maak. Daarvan is Jesus se kruis
die bewys. En Openbaring 21:4 beloof dit ook. Gaan lees dit.
Tot dan sal daar treurendes wees. En vir ons wat by God gaan
treur, is daar God self, die Trooster. Ons is gelukkige mense,
geseënd, ook as ons treur.

Wat van die siekte, en dood, en egskeiding, en al die ander
onomkeerbare gevolge van die sonde? Al die onomkeerbare
oorsake van my hartseer? God gee nie op alles antwoorde nie.
God gee Homself. Dit is meer as enige antwoord!
Hy is die Trooster. Hy dra my.
As iemand wat God se troos vind val, bly hy nie lê nie.
God tel jou op. Hy dra jou tot die einde.
“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”
...sê Jesus!

Ernest