Jesus sê in Matteus 5:5: “Geseënd is die sagmoediges,
want hulle sal die nuwe aarde ontvang.”
Die sagmoediges is daarin geseënd dat hulle
“die nuwe aarde ontvang.” Hierdie belofte verwys terug
na die landsbelofte van die Ou Testament. In Christus kry
hierdie belofte nou nuwe betekenis. Die aarde is en bly
God se eiendom, al lyk dit soms of dit deur goddeloses
besit en beheer word. Gelowiges in Christus sal dit egter
erf! Dit staan vas. Dit is God se eiendom en Hy het dit as
Eienaar so bepaal in sy Woord, sy Testament. Die gelowiges
erf die nuwe aarde! Dit is in beginsel nou reeds geldig.
Vir die volle realisering daarvan is dit net ‘n kwessie van tyd.
In hierdie saligspreking van Matteus 5:5 lê daar oneindig baie
troos. Christene mag die stukkie aarde waarop hulle woon en
werk as ‘n stukkie nuwe aarde beleef. Ons kan nou reeds hier
ons Christelike invloed so laat geld dat dit duidelik is dat ons
die eintlike Eienaar ken, en die stukkie aarde vir Hom beheer
as sy verteenwoordigers. Hierin moet ons sagmoedig optree.
Beheersd. Maak nie saak of dit in die verkeer is nie, of op
kantoor, of in die werkswinkel, of in reaksie op nuusberigte,
oral...sagmoedig...beheersd. Sterk mense wat onder die Gees
en die Woord funksioneer.
Die belangrike is dat ons dit kán doen. Die keuse lê by ons.
Die keuse lê by jou. As jy sê jy kan nie, is dit omdat jy nie
toelaat dat die Heilige Gees dit deur jou doen nie!
Dan is dit: wil nie!
Ons is nie slagoffers van omstandighede nie.
Agter die beheersde gees lê die sekere en bevrydende wete
dat God regeer! Aan Christus is alle mag gegee, in die hemel
en op die aarde. Ons hoef nie kop te verloor en paniekerig
te raak nie. God regeer, en vertrou die nuwe aarde toe aan
beheersde mense. Mense onder die leiding van die Heilige
Gees. Mense wat Hom vertrou en nie meer in blinde ongeloof
reaktief optree nie. Ons behou beheer oor onsself en die
stukkie nuwe aarde waar ons leef en God verteenwoordig.
In sagmoedigheid gaan dit om ‘n beheersde gees ten spyte
van omstandighede! Leef sagmoedig. God het deur sy Gees
in jou kom woon sodat jy dit heeltemal kán doen,
en nou die roeping het om dit te doen!
Ernest