“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word.” – Matteus 5:6.
Honger en dors dui op ‘n soort nood wat roep om
versadig te word. Wat bedoel Jesus met hierdie
woorde? Hy bedoel dat daar by ‘n kind van die Here
‘n intense en allesoorheersende verlange is om te
doen wat reg is, en ook toe te sien dat reg gedoen
word aan alle mense. Wanneer ‘n mens honger en
dors het, is jy nie in ander dinge geïnteresseerd nie.
Jou honger moet eenvoudig gestil word, en jou dors
moet geles word. So is ware gelowiges mense wat
voor alles en bo alles daarna soek om te doen wat
voor God reg is – wat vir Hom goed en aanneemlik
en volmaak is – Romeine 12:2.
Nou sê Jesus: “Geseënd is dié wat honger en dors
na wat reg is...” Ons almal wil graag geseënd wees.
Dikwels op die “goedkoopste” manier. Ons maak
selfs die duur genade van God goedkoop deur te leef
soos ons wil, en tóg aanspraak te maak op seën.
Ons weet uit die Bybel dat ons op geen manier God
se genade en seën kan verdien nie. Ons kan dit selfs
nie eers verdien deur te doen wat reg is nie.
Net Christus het reeds verdien wat ons so gratis ontvang.
Met ons soeke na dit wat reg is, bewys ons as’t ware dat
ons deel in die seëninge wat Christus reeds vir ons verdien
het. Juis omdat ons nie werk vir verdienste nie, maar leef
uit God se genade, is die appél op ons baie groot:
ons moet ons beywer vir die wil van God – Matteus 6:33.
God se wil is rég, en gelowiges moet regshonger en regsdors
mense wees. Mense wat intens honger en dors na wat reg is!
Ons moet selfs gewillig wees om te ly vir wat reg is.
Ons vereenselwig ons ten volle met God se saak en sy wil op
aarde vir alle mense! En ons sal ook daarvoor ly as dit nodig is.
Is dit wat vir God reg is ten opsigte van mense, ook jou passie?
Sal jy jou onder alle omstandighede beywer vir dit wat reg is?
Honger en dors jy daarna?
Dit is ‘n soort nood wat in ons tyd nog meer as ooit roep om
reg en geregtigheid. Honger en dors saam met God daarna,
as sy geseënde!
Ernest