Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is,
want hulle sal versadig word” – Matteus 5:6.

Gelowiges stem saam dat God se wil, soos ons
dit in die Bybel vind, almal se norm moet wees.
En tóg verskil gelowiges soms skerp oor die
vertolking van God se wil soos dit in die Bybel
uitdrukking vind. Hoekom?
Die grootste rede is seker dat ons dikwels so
vasgevang is in ons eie situasie dat ons nie die
Bybel onbevange lees nie. Ons is so bang vir die
konsekwensies van God se wil op ons eie lewe.
Ons wil eers weet wat die gevolge vir ons situasie is,
nog voordat ons regtig weet wat God se wil is.

Hoewel ons sy wil moet doen, en wil doen, is ons
eitlik meer begaan oor die gevolge daarvan vir onsself!
Hoe die wil van God ons persoonlike lewens gaan raak,
speel dan ‘n groter rol as die wil van God self!
Dan laat ons die Bybel dikwels “buikspreek”.
Dan worstel ons met geloofs- en gehoorsaamheids
probleme. Dan vra ons nie regtig na die wil van God en
wat in God se oë reg is nie. Al bedoel ons dit goed,
tóg vertrou ons dan nie die soewereine God Wie se wil
volmaak en reg is nie. Ons vertrou Hom nie genoeg en
ongekwalifiseerd om na sy wil te vra en dit te doen nie.
Ons soek selfs vooraf praktiese waarborge.

Hoe ongemaklik ons ookal daaroor kan raak met die
mens wat ongevraagd voor ons kom staan, ons moet
weet dat God se wil vir daardie situasie reg is. En in die
situasie moet ons ons beywer vir sý wil.
Ons moet honger en dors na wat reg is, eerder as om
die praktiese implikasies en ongerief vir onsself eerste
te verreken. Dan...sal ons versadig word.

Hierdie seën waarvan Jesus hier praat beleef ons
wanneer ons bó alles in die regte verhouding met God
leef en volhard om te doen wat in sy oë reg is.
Ons kan onsself nie geestelik versadig nie.
Ons kan nie ons eie geestelike dors les nie.
Jesus sê ‘n mens wórd versadig! Jou geestelike dors wórd
geles. Wat jy self nie kan doen nie, doen genade vir jou en
in jou as jy maar net honger en dors na wat reg is in God
se oë. Na dit wat werklik God se wil is...ongeag.

Ernest