“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word.” – Matteus 5:7.
Die barmhartiges is mense met ‘n sagte hart as hulle
ander se nood sien. Hulle is mense met ‘n hart wat
omgee, soos die hart van Jesus: “Toe Hy die meniges
sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was
moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het
nie.” – Matteus 9:36.
Dissipelskap maak my nie net ‘n heilige in die
binnekamer nie. Dissipelskap moet tog in die openbaar
geleef word. Daar waar die Here my in die wêreld wil
gebruik as sy verteenwoordiger.
Barmhartigheid is ook nie net ‘n jammer gevoel vir
mense in nood nie. Barmhartigheid is die God-gegewe
vermoë om as’t ware binne in die vel van iemand anders
te klim totdat jy deur sy oë sien, met sy ore hoor, met sy
gedagtes dink, en voel soos hy voel en leef. Sy nood
word jou nood. Dit is om jou volkome met ‘n ander te
vereenselwig en saam met hom deur te maak wat hy
deurmaak.
Barmhartigheid moet veral op twee maniere in ons
daaglikse lewe tot uiting kom.
Die eerste is in vergewingsgesindheid.
Jesus se barmhartigheid het tot gevolg dat Hy as’t ware
in ons vel kom inklim en vir ons sondes kom sterwe.
Daarom moet ons in barmhartigheid vergewe soos wat
God ons in Christus vergewe het – Kolossense 3:13.
Jesus leer ons ook bid: “...vergeef ons ons oortredinge
soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree”, en verder:
“...as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle
ook nie julle oortredinge vergewe nie.” – Matteus 6:15.
God het my in sy barmhartigheid so onbeperk vergewe,
dat ek daarna verlang om ook my skuldenaars te vergewe.
Roy B Zug het gesê: “As jy wil hê ander mense moet gelukkig
wees, wees barmhartig; as jy self gelukkig wil wees,
wees barmhartig.”
Met barmhartigheid kan ‘n mens nooit te ver gaan nie.
Dit moet nie bereken nie. Dit moet net gee uit ‘n hart vol
barmhartigheid met die liefde van God in ons harte as die
oorsprong daarvan.
Geen wonder nie dat Francis Bacon dit so gestel het:
“Die strewe na mag het engele tot ‘n val gebring;
die sug na oormatige kennis het die sondeval van die mens
veroorsaak.
Maar met barmhartigheid kan ‘n mens nooit te ver gaan nie.
Nóg engele, nóg mense kan geskaad word deur ‘n oormaat
daarvan.”
Wees barmhartig!
Ernest