Barmhartigheid kom veral op twee maniere in die lewe
tot uiting. Die eerste is in vergewensgesindheid.
Die tweede is dat barmhartigheid van jou vra om die wat
honger is te voed, om die wat dors het water te gee, om
vreemdelinge te respekteer en menswaardig te behandel,
om naaktes te klee, siekes te bemoedig en gevangenes
te besoek.
Lees net weer wat sê Jesus in Matteus 5:7: “Geseënd is dié
wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys
word.”
Barmhartigheid doen eenvoudig iets aan die nood en leed
van ander. Versuim hierin dui op ‘n hart wat nie met God reg
is nie. Lees gerus Matteus 25:41-46. Jesus vat dit treffend
saam in vers 45 wanneer Hy sê: “Dit verseker Ek julle:
Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen
het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”
Dit geld ook die geestelike nood van mense. Daar is immers
geen groter honger en dors as die honger en dors na die
evangelie nie. Daarom is prakriese barmhartigheid ook
praktiese evangelisasie en sending.
Wat bedoel Jesus met die woorde dat die wat barmhartig
is ook barmhartigheid sal ontvang? Hy sê “...want aan hulle
sal barmhartigheid bewys word.”
Ons kan niks by die Here verdien nie. Ook nie deur ons
barmhartigheid nie. Ons doen dit eenvoudig vanuit ‘n
dankbare lewe oor ons eie verlossing en nuwe lewe in
Christus. Ons kan geen seën verdien nie. Selfs nie eers
deur goed te doen aan mense in nood nie.
Jy verloor ook nie jou saligheid as jy nie “genoeg”
barmhartigheid bewys het nie. Wie sou dan gered kon
word en geseënd kon wees? Ons word juis gered op grond
van God se barmhartigheid wat Hy aan die kruis kom doen
het, in Christus vir ons.
Wat word dan met hierdie woorde van Jesus bedoel?
“...want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
Jesus bedoel dat die egtheid van ons dissipelskap geleë is
in ons houding teenoor ander se nood. In ‘n gelykenis wat
Jesus vertel vra Hy in Matteus 18 vers 33: “Moes jy nie ook
jou medeamptenaar jammer gekry het soos ek jou jammer
gekry het nie?”
Dit geld geestelike en fisiese nood. Maar dit sê ook meer:
Daar is niks wat mense so aantrek as ware liefdevolle
belangstelling en opregte meegevoel nie. In ons Christelike
getuienis kan mense opregte liefde nie weerstaan nie.
Dit trek hulle na die Here toe. Dit is hoe God kragtig deur
ons werk met sý liefde! Wanneer ons opreg barmhartig is
en met volgehoue opregte liefde alle mense met die
kruisboodskap bly ontmoet, sal ons met vreugde ontdek
dat harde harte sag word.
“Geseënd is dié wat barmhartig is...”, sê Jesus.
Ernest