Jesus gaan verder met die Bergrede en sê dan hierdie woorde:
“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”
– Matteus 5:8.
Ware godsdiens is ‘n saak van die hart. Jesus sê dit met nadruk
omdat so baie mense die klem laat val op uiterlike godsdiens,
maar hulle harte is ver van God af. Ons moet onsself hierin
ondersoek onder leiding van die Heilige Gees. Jesus haal self
die woorde van Jesaja aan om uiterlike vormgodsdiens en
skynheilige huigelary vir alle tye te verdoem.
Hy sê in Markus 7:6: “Die profeet Jesaja het julle mooi opgesom.
Julle is skynheiliges, soos daar geskrywe staan: Hierdie volk eer
My met hulle mond, maar hulle hart is ver van My af...”
Wat in die hart omgaan is vir die Here deurslaggewend.
Die vraag is eintlik nie hoe jou lewe lyk nie, maar hoe jou hart lyk?

Wat beteken dit om “rein van hart” te wees? Beteken dit
doodgewoon om sonder sonde te wees? Of om in eie krag sonder
sonde te wees? Dit kan tog nie, want dan sou ons álmal sonder
seën wees! Rein wek by ons die assosiasie om skoon te wees.
So is dit inderdaad. Maar dit gaan om meer as net “skoon te wees”.
Dit gaan daaroor om van harte skoon te wees, en daarom skoon te
wees in jou bedoelings. ‘n Rein hart is dus ook skoon in die sin dat
dit suiwer en opreg is. Daar skuil geen verborge motiewe of
verkeerde gesindhede in ‘n rein hart nie. Daar het dus in die
sentrum van jou denke en emosies radikale verandering gekom.

Die Heilige Gees het djou hart oorgeneem en lei jou nou daarin.
Die gesindheid wat die Heilige Gees jou gee beheer nou jou gedagtes,
woorde en dade. Dit is nou onverdeeld en volkome aan God gewy.
Dit is nie meer vals teenoor ander mense nie. Dit is nou ‘n hart wat
met onverdeelde liefde op God gerig is. Daar is vir geen ander gode
plek nie. So ‘n mens, met ‘n rein hart, wil alleen leef ter verheerliking
van God.

Kom ons streef onder leiding van die Heilige Gees na rein harte.
Kom ons plaas onsself doelbewus onder die leiding van die Gees
met die doel om God met ons hele lewe te verheerlik. Soek in elke
geleentheid en teenoor elke mens die wil van God. Net God kan jou
hart deur die Gees reinig, om volkome vir Hom te leef. Bid daarvoor.

Ernest