Jesus sê in Matteus 5:8: “Geseënd is dié wat rein van
hart is, want hulle sal God sien.”
Eintlik is ons almal maar krom en skeef. Ons gesindhede
is dikwels verkeerd. Ons woorde en dade bots ook gereeld
met mekaar. Ons leef partykeer dubbele lewens. Dit is die
teenoorgestelde van “rein van hart” te wees. Mense is
meermale nie wat hulle voorgee om te wees nie. Hulle sê
een ding en bedoel ‘n ander. Daarom moet ons bly bid om
‘n rein hart. Ons moet bly bid dat ons harte opreg sal wees.
Waar kom reinheid van hart vandaan?
Dit kan net bekom word deur opregte geloof in Jesus Christus.
Ons ontvang rein harte net van God deur die wedergeboorte
in Jesus Christus. In ons verhouding met Jesus Christus word
ons met Hom, met onsself, en met ander mense eerlik.
Die eerlikheid is opregtheid. Dit is bevrydend om verlossing
by die Here te vind van alle skyn. ‘n Rein hart maak ‘n rein
lewe moontlik. Daar is onmeetbare seën verbonde aan ‘n rein
hart. En wat meer is; Jesus sê diegene sal God sien!
God sien?
A Clutton-Brock beskryf “die wat rein van hart is”, soos Jesus
in Matteus 5:8 sê, soos volg: “Jesus bedoel veel meer as selfs
morele reinheid. Hy bedoel ‘n skerp fokus of gerigtheid op net
een saak...
Reinheid van hart is die teenoorgestede van dubbelhartigheid.
Die reines van hart is hulle wat in mense en sake belangstel
suiwer ter wille van daardie mense of saak, en nie óók met die
oog op voordeel wat hulle sélf daaruit kan trek nie...
Sulke mense is inderdaad “geseënd”, dit wil sê gelukkig,
want “hulle sal God sien”...
Daarmee het Jesus natuurlik nie bedoel dat ons God letterlik
met ons oë sal sien, soos ‘n mens, sê nou maar, ‘n koei in die
veld sien staan nie. Hy het bedoel hulle sal ‘n werklikheid sien
wat ons gewoonlik nie sien nie, op so ‘n manier dat dit meer
werklik vir hulle sal wees as die sigbare wêreld, en dat hulle
verseker sal weet dat dít die hoogste goed in die lewe is”...
die lewe soos God dit bedoel.
Dit laat jou God “sien”!
Bid daarvoor, en leef voor die Here,
met ‘n opregte en rein hart. Jy sal God sien!
Ernest