Matteus 5:9: “Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.”
God is ‘n God van vrede. Geen wonder dat Jesus dit
sê nie: “Geseënd is die vredemakers...” Vrede is ook
die vrug van die Heilige Gees. Geesvervude mense
máák vrede! God het in Christus die vredes-inisiatief
teenoor die mens geneem.
Wat doen vredemakers? Baie! Vrede kom nie vanself nie.
Dit kom nie deur “God’s water oor God’s akker te laat loop”
nie. Vrede kom nie deur niks te doen nie.
Vrede word gemáák! Vrede kos dikwels baie duur. Dit het
God sy Seun gekos! Dit vra, gaan, soek, verdra. Dit vra die
belydenis van skuld en die skenk van vergifnis. Vrede is ‘n
woord wat praat van ‘n herstelde verhouding. Dit is nie ‘n
toestand van geen probleme en uitdagings nie. Dit is wel
‘n verhouding waar mense, ondanks probleme en uitdagings,
mekaar gevind het, vashou en dra.
Dink maar net aan Efesiërs 2:14 oor die haat tussen Jode en
nie-Jode: “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en
nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die
vyandskap afgebreek wat vroeër soos ‘n muur skeiding
gemaak het.” Juis omdat “vrede maak” met die herstel van
verhoudings te doen het, is dit ook dikwels so moeilik.
Gebroke verhoudings word dikwels deur sterk emosies beheers.
Redelike argumente is egter ‘n vereiste vir die herstel van
verhoudings. En tog is dit nie die argument wat “wen” nie.
Dit is nodig om met jou hart die ander een nader te trek en
“vas te hou”. Om met liefde die tree te gee oor die emosionele
gaping. Erkenning en skuld loop ver in die proses van vrede
maak. Die feit bly: Vrede kan net gemáák word.
‘n Christen is iemand in wie se hart die Vredevors woon,
en daarom is jy ‘n vredemaker. Iemand wat versoening wil
bewerk tussen God en mens, en mens en mens. Jy doen dit
met ywer, al verg dit groot inspanning van jou. Vredemakers
doen die Here se wil en werk.
“Geseënd is die vredemakers...”, sê Jesus!
Gaan maak vrede! Met God deur die Gees,
en met jouself, en met alle mense.
In die kruis van Jesus het God vrede kom maak.
Dra die kruis van Jesus na mense toe.
Ernest