‘n Christen is ‘n mens wat uit die diepste nood
van totale verlorenheid verlos is. En wanneer
‘n Christen dit ontdek, wil hy hierdie redding wat
in Christus Jesus te vind is aan almal aanbied.
Wanneer jy die vrede van God, wat alle verstand
te bowe gaan, ontdek het en leer ken het, wil jy dit
ook met ander mense deel. Daarom kan jy nie anders
nie, as om ‘n vredemaker te wees. Wie die Vader se
hart leer ken het, wéét hoe graag Hy aan sondaars
vrede wil gee! God is in sy wese Vredemaker!
Nou noem Jesus mense wat vredemakers is geseënd!
“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders
van God genoem word.”- Matteus 5:9.
Jesus noem hulle kinders van God! Wat meer kan ‘n
mens begeer? Om deur God ‘n kind van God genoem
te word!
In die benaming lê ook die versekering van ons heil.
Waarom het God sy Seun na die wêreld gestuur?
Omdat Hy die God van vrede is! Wie waarlik sy kinders
is en na Hom aard, is vredemakers! Hierin lê ons
verbondenheid met Christus wat ons kindskap van God
moontlik gemaak het. Jesus het kom vrede maak tussen
ons en God. Jesus laat ons deel in die vrede wat Hy
gemáák het! Dit is waarvoor Hy sy lewe gegee het.
Wanneer ons dit besef en dit ‘n werklikheid in ons eie
lewe geword het, dat daar nou vrede is tussen God
en ons, dan kan geen proses van vrede máák vir ons
te duur wees nie. As kind van God is ek ‘n vredemaker.
Punt.
Die vraag is hoeveel ons bereid is om te doen om
vrede te maak? Hoeveel is ek bereid “om prys te gee”?
Dit is gewoonlik die vraag. Maar dit is nie die vraag van
‘n vredemaker nie. Dit gaan nie oor my nie, maar oor
God se vrede vir elke mens. Dit gaan oor God se wil,
wat vrede is!
In God se wil is ons vrede!
En God se wil maak ons vredemakers!
Doen God se wil.
Daarom het Franciscus van Assisi sy bekende gebed, wat
ons so graag en dikwels sing, met hierdie woorde begin:
“Here, máák my ‘n werktuig van U vrede...”
Dag Hammarskjöld stel dit so duidelik:
“Daar is nie ‘n abstrakte werklikheid soos vrede nie;
daar is net mense wat vrede soek”...en vrede máák,
deur die genade en die krag van die Here!
Húlle noem Jesus: “kinders van God!”
Ernest