Matteus 5:10: “Geseënd is dié wat vervolg word
omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle
behoort die koninkryk van die hemel.”
Jesus sê dat mense wat God se wil doen geseënde
mense is. Gelukkige mense. Al is dit hoe moeilik
om in sekere omstandighede God se wil te doen...
Dit lyk dan nie noodwendig of ons geseënd en
gelukkig is nie. Maar dat dit so lyk verander niks
aan die feit van die seën van God nie.

Wanneer ons doen wat reg is, is ons geseënd.
Jesus sê dit. Ons seën en geluk is intens gewaarborg
by God. Dit is reeds geskenkte seën. Dit groei nie uit
ons eie pogings om reg te doen nie. Ons seën lê in
God en by God. Ons is ten diepste geseënd omdat
ons in Christus burgers geword het van die koninkryk
van God. Daarom sê Jesus:
“...want aan hulle behoort die koninkryk van God.”

Om deel van die koninkryk van God te wees beteken
dat God aan óns reg gedoen het. Ons het dit nie
verdien nie. Christus het dit vir ons verdien.
Deur Christus se soenverdienste, plaas God dit wat
Hý gedoen het, op óns rekening.
So doen God aan ons reg, op grond van Christus se
verdienste. Ons rekening is deur Christus vereffen.
Ons sondeskuld is betaal. Volledig. Ons word in
Christus regverdig verklaar. Ons word reg-met-God
verklaar deur God self!

Vir hierdie Koning en koninkryk waarvan ons nou
burgers is, is ons bereid om te stry vir wat rég is.
Ons is selfs bereid om vir die reg van die Koning en
sy koninkryk te ly en te sterf as dit nodig is,
en wanneer dit nodig is. So weet ons ook dat die
geskiedenis vol is van martelare ter wille van die
koninkryk van God en God se wil.
Die Bybel sê self dat gelowige mense wat aan God
se wil getrou is, voorbereid moet wees op swaarkry
en vervolging. Dit is nie uitgesluit nie.
Ons soek dit nie self nie, maar ons moet nie verbaas
wees as dit kom en wanneer dit kom nie.
Die koninkryk van God het jou totale lojaliteit.
Doen wat reg is. Doen die wil van God.

Ernest