Christene is mense wat doen wat reg is in
die oë van die Here. So moet dit wees.
Ons moet ten alle tye en op alle plekke
die wil van God gehoorsaam en doen.
Christene moet weier om kompromie te
maak met die goddelose wêreld se druk
op Christene. Dit is ook die rede hoekom
Christene so dikwels wêreldse druk en
weerstand beleef, en selfs onderdrukking
en vervolging. Juis daarom moet ons ook
vervolging verwag. 2 Timoteus 3:12 sê:
“Almal wat in Christus Jesus toegewy aan
God wil lewe, sál ook vervolg word.”
Wanneer ons die wil van God wil uitleef,
moet ons vervolging verwag.
Wanneer sodanige vervolging, ter wille van
die rég van God se ryk, op ons pad kom,
moet ons dit as ‘n voorreg beskou om saam
met Jesus dié kruis op te neem. Jesus sê in
Matteus 5:10: “Geseënd is dié wat vervolg
word omdat hulle doen wat reg is, want aan
hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Daar is geluk en seën verbonde aan die lyding
ter wille van God se koninkryk. Al is dit hoé
moeilik. Die punt is dat dit plaasvind ter wille
van die dóén van dit wat reg is! Dit gaan om
God se reg. Dit maak die verskil.
God se saak, God se reg, maak saak.
Doen eenvoudig wat reg is, al sou selfs
vervolging die gevolg daarvan wees.
Doen dit van harte vir die Here!
Ernest