Volgens die woorde van Jesus in Matteus 5:10 is
gelowiges geseënd wanneer hulle vervolg word
“omdat hulle doen wat rég is.”
Op dieselfde wyse word dié wat “honger en dors
na wat rég is” in Matteus 5:6 ook geseënd genoem.
Die gevaar is groot dat elkeen wat swaarkry nou sal sê:
“Ek is reg, want ek word vervolg, en daarom is ek
geseënd.” Mense misbruik die “reg” maklik om die rég
vir hulself toe te eien. Nie almal kan tog reg wees nie,
en as jy die samelewing teen jou kry, beteken dit ook
nie dat jy noodwendig reg is nie.

Hoé weet ons wat rég is? In die samelewing is dit makliker.
In die geval van ‘n verskil wend mense hulle na die “reg”
en laat mense met regskennis hul saak of reg verdedig.
Die saak word dan voor ‘n onpartydige regbank verdedig.
Maar in die daaglikse lewe van ‘n Christen, waaroor Jesus
hier praat, werk dit nie so nie. Ons kan nie ten opsigte van
alles eers ‘n regsmening inwin nie. Wat is nou reg?

Volgens die Bybel is die dinge reg wat ooreenstem met
die wil van God. ‘n Vraag na die reg is daarom meteens
‘n vraag na die wil van God. Dit is dan ook hier waar reg
en verkeerd skei. Baie van ons is nie altyd gewillig om na
God se wil te vra nie. Ons het klaar gedink. Ons het klaar
besluit. Ons sluit die moontlikheid uit dat die wil van God
anders kan wees. So luister ons dan ook nie meer
openhartig na die wil van God nie. Of ons luister net na
wat met ons eie wil ooreenstem. Ons luister selektief.
My wil filtreer dan die Woord van God, en dit wat reg is,
op sodanige wyse dat ek net deurlaat wat met my eie wil
ooreenstem. Ons is soms te bang vir die gevolge van God
se wil, en daarmee saam dit wat rég is. Ons is meer
gefokus op die gevolge vir onsself, as op dit wat regtig
God se wil is. Hoe die wil van God dan ons persoonlike
lewens gaan raak, speel dan ‘n groter rol as die wil van
God self! Ons vertrou nie vir God genoeg om
ongekwalifiseerd na sy wil te vra nie.

Kom ons wees meer eerlik met onsself in ons daaglikse
lewe en soek opreg na God se wil vir elke situasie is ons
lewe. Kom ons maak seker dat ons God se wil meer en
meer leer ken uit sy Woord. Kom ons leef dan God se wil
uit deur reg te doen. Deur reg te leef.

Ernest