‘n Probleem in die vraag na wat reg is,
lê dikwels in hoe ons die Bybel hanteer.
Onkunde oor die karakter van die Bybel en
hoe om dit te hanteer veroorsaak dat mense
dikwels die Bybel laat “buikspreek”. Ek laat
die Bybel sê wat ék wil hê die Bybel moet sê.
Ons mening is so afgehandel en klaar opgemaak
dat ons maar net in die Bybel bevestiging soek
vir wat óns klaar glo. Ons dink dan dat ons die
Bybel ernstig opneem, maar in der waarheid hoor
ons eintlik maar net ons eie stem weerklink.

Die antwoord lê in ‘n eerlike omgang met die
Woord van God.
Die eerste vraag wat ons moet vra is:
Wat staan presies hier?
Dit is die belangrikste fase in die verstaan van die
Skrif, en ook die moeilikste. Dit kos tyd en ons
moet soms hulp soek by ‘n gelowige vriend,
‘n leraar, of in literêre hulpmiddels. Wat sê God
vir die mense aan wie die woord bedoel was?
Eers as ons dit ontdek kan ons die volgende vraag vra...

Die tweede vraag: Wat sê God hierdeur vir mý?
Ook hierin het ons mekaar nodig. Ons hoor soms baie
subjektief. Ons hoor wat ons wil hoor.
Wanneer gelowiges saam besin, verstaan ons beter
en is die antwoord meer verantwoord. Dit alles word
natuurlik gedoen in afhanklikheid van en onder leiding
van die Heilige Gees!

Die derde vraag is: Wat en hoe is my antwoord?
Wat sê ek vir die Here in antwoord op sy Woord,
en wat gaan ek daaromtrent prakties doen in my lewe?
Die Woord van God roep altyd op tot ‘n antwoord
aan God, en die daad wat by die woord gevoeg word.

Juis hierin lê die vreugde daarvan om met die Woord
van God om te gaan. Dit is lewensveranderend!
Ons leer wat rég is, om reg te antwoord, en ons leer
om reg te doen. Dit is bevrydend! Om dit van harte
uit te leef! Eers dan doen ons wat regtig reg is in die
oë van die Here. Wie die wil van God uit sy Woord
leer ken en onder leiding van die Heilige Gees met sy
lewe daarop antwoord, weet wat reg is.
Soek die wil van die Here in sy Woord. Opreg. Elke dag.
En gaan leef dit wat reg is uit met groot oorgawe!

Ernest