“Geseënd is julle wanneer die mense julle
ter wille van My beledig en vervolg en valslik
ál wat sleg is van julle sê.” – Matteus 5:11.
Dissipels van Christus moes dit verwag het.
Ter wille van Christus sou hulle ook swaarkry.
Hoe langer hulle Jesus gevolg het, hoe swaarder
was die vervolging. Hulle het dit tot aan die lyf gevoel.
Die Christene het hulle werk verloor. Hulle is uit die
sosiale lewe gestoot. Nero het hulle vol pik laat smeer
en aan die brand gesteek om sy tuin te verlig. Gesmelte
lood is oor hulle gegooi. Hulle is met rooiwarm plate
verbrand. Van hulle liggaamsdele is afgesny en voor
hulle oë gebraai. Dit was ‘n groot risiko en hoegenaamd
nie gewild om aan Jesus van Nasaret getrou te wees nie.
Sy boodskap is met alle mag teengestaan. Navolgers van
Jesus is met die dood gedreig as hulle selfs in die tempel
net sy Naam sou noem. Ons ken nie hierdie intense
vervolging ter wille van ons geloof nie.
Ons moet nie die saligsprekinge los van mekaar lees nie.
Dit gaan in die Saligsprekinge om ‘n omvattende
vereenselwiging met Jesus Christus en sy saak. Dit gaan
om ‘n vereenselwiging met die gesindheid van Jesus.
Wanneer ons die saak van God op die hart dra, dan moet
ons ook die gevolge dra. Dit is beslis nie altyd aangenaam
nie. Wanneer ons byvoorbeeld vredemakers is, kan ons
spoedig in aanraking kom met vervolging. Wanneer ons
doen wat reg is, is ons in ‘n wêreld van onreg en korrupsie
baie gou ongewild.
Die belangrike beklemtoning wat in Matteus 5:11 bygevoeg
word is: “...ter wille van My.”
Christene kan ook ter wille van hulleself beledig en vervolg
en vals beskuldig word. Ons kan kry waarna ons soek as dit
om onsself gaan en nie om die wil van die Here nie. Dan kan
ons inderdaad moeilikheid kry. Daarom moet ons nie te gou
roem dat ons ter wille van Christus ly nie. Jy moet jouself
eerlik vra: “Het ek dit oor myself gebring? Waarom hou
mense nie van my nie? Werk ek genoeg aan my gesindheid?”
Die vraag is of jy regtig soos ‘n navolger van Christus optree,
en met die gesindheid van Jesus Christus. Dink maar aan
Filippense 2:5: “Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat
daar ook in Christus Jesus was...”
Die bedoeling is nie om te sê dat almal wat in ons samelewing
“ly” self daarvoor verantwoordelik is nie. Die werklikheid is
tog anders. Die bedoeling is net om seker te maak dat ons die
klem van hierdie saligspreking verstaan.
Ons is geseënd wanneer ons ter wille van Christus beledig,
vervolg en vals beskuldig word. Ons moet daarom seker maak
dat ons die Persoon, saak en gesindheid van Jesus Christus
reg verstaan, en rég verteenwoordig.
Bid daarvoor dat dit regtig vir jou oor die Here en sy saak gaan,
en nie oor jouself nie.
Ernest