Christene gaan nie maar net saam met die
wêreld se stroom nie. Daarom is Matteus 5:11
so ‘n belangrike teks om te onthou:
“Geseënd is julle wanneer die mense julle ter
wille van Mý beledig en vervolg en valslik ál wat
sleg is van julle sê.”
Christene praat ook nie maar net saam met die
stroom nie. Ons is te geneig om net die lys van
negatiewe opmerkings langer te maak in die
geselskap. Ons skinder ook te maklik saam en
begin ook sommer met die woorde:
“Ek wil nou nie skinder nie maar...”
Ons moenie probeer om “in” te wees, téén ons
eie oortuigings in nie. Ons moet ook nie maar
net saampraat om ons eie vel te red nie.
Jesus is ons enigste Here, en ons verbondenheid
met Hom laat sekere optrede eenvoudig nie toe nie.
Om Jesus se ontwil moet ons vervolging, ja selfs die
dood, bo die verkeerde lewe kies. Daar is Christene
wat vandag nog dieselfde duur prys van vervolging
as in die verlede betaal. Vandag nog sterf Christene
vir hul geloof in sekere lande.
Vir die meeste Christene neem vervolging egter die
vorm aan van spot en hoon. Ons word dikwels uitgelag.
Ons word ook die gek mee geskeer. Ook vandag nog
kos Christen-wees ‘n prys. Dissipelskap was nog nooit
goedkoop nie. Genade is verniet, maar nie goedkoop nie.
Om uit God se genade ‘n kind van God te wees is ook om
jou kruis ter wille van die Here op te neem.
Ons kan ons egter daaroor verbly om ter wille van Christus
en die koninkryk van God te ly en beledig te word.
In die vroeë vervolgde kerk is meermale aan Christene
geskryf:
“Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus
deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy
wederkoms in heerlikheid.” – 1 Petrus 4:13.
Wees ‘n Christen ter wille van Christus,
en vir geen ander rede nie.
Ernest