“Wees bly en verheug, want julle loon is groot
in die hemel. Hulle het immers die profete voor
julle net so vervolg.” – Matteus 5:12.

Ware profete was nog nooit gewild gewees nie.
Hulle sê gewoonlik nie wat die mense graag wil
hoor nie. Daar was ook nog altyd gewilde “profete”,
ook in die Bybel, maar hulle was valse profete.
Hulle het gesê wat die koning en sy volgelinge wou
hoor. Ter wille van gewildheid en selfs ter wille van
geld. Gehuurde profete.

Ons moet dit nou nie verkeerd verstaan nie.
Dit beteken nie dat ware profete opsigself ongewild
is nie. Maar die boodskap van ware profete maak
hulle dikwels ongewild. In die Bergpredikasie koppel
Jesus meermale vervolging aan sy navolging.
Let weer op die woorde van Jesus in Matteus 5:12:
“Wees bly en verheug, want julle loon is groot in die
hemel. Hulle het immers die profete voor julle net so
vervolg.”
Hiermee plaas Jesus die optrede van ‘n dissipel van
Hom op dieselfde vlak as die optrede van die profete
voor hulle. Toe was dit “hulle”, nou is dit “julle”.

Watter profete is dit wat meermale vervolg is?
Vir Bybelgelowiges is dit bekend: Hulle wat ten alle
koste erns met God se wil en sy Woord gemaak het.
Dikwels moes hulle teen die woord van mede-“profete”
sê wat die wil van God is. So was hulle dan by die
hoorders sowel as die mede-“profete” ongewild.
Hulle moed om te praat wat God se wil is, ten spyte
van die persoonlike gevolge daarvan vir hulleself,
was juis een van die kenmerke van die egtheid van
hulle optrede ter wille van God.

Elke dissipel van die Here Jesus weet dit.
Die gehalte van ware profeet van God te wees vra
na deeglike erns met die Woord van God en die ware
bedoeling daarvan vir jou persoonlike lewe. Om die
ware bedoeling van die Woord van God oor te dra,
vra baie moed in sommige situasies. ‘n Evangelie wat
min verandering vra is gewild. Die Evangelie van Jesus
Christus vra egter diepsinnige verootmoediging en
lewensverandering. Die Evangelie van Jesus Christus
waarborg veral nie die status quo van my lewe nie.
Kom ons maak regtig erns met die Woord van God.
Kom ons laat toe dat dit ons by persoonlike
verootmoediging bring voordat ons dit na ander
mense neem...
Kom ons praat en tree dan met moed en oortuiging
op ter wille van die Here ons God.

Ernest