Om dissipel en profeet van die Here te wees
beteken om die bedoeling van God se Woord
persoonlik uit te leef, en met oortuiging oor te
dra aan ander. Gelowiges kan nie anders nie.
Dit is wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus
te wees. Maar natuurlik moet ons dit ook met
die gesindheid van Jesus Christus oordra.

Dit gaan nie net oor God se woorde nie. Ons kan
die woorde van God só oordra dat ons manier van
doen die betekenis daarvan verbloem vir die een
wat dit moet hoor. Maar selfs al doen ons dit met
die gesindheid van Jesus Christus kan ons nog
steeds felle teenstand verwag. Dikwels is dit juis die
gesindheid van Jesus wat maak dat ons verwerp word.
Dit is juis dikwels die Christus-gesindheid van die ware
profeet van die Here wat die wêreld nie kan vat nie.
Ware profete van die Here sal die een of ander tyd
houe vat. Maar onthou die woorde van die Here Jesus
in Matteus 5:12: “Wees bly en verheug, want julle
loon is groot in die hemel. Hulle het immers die
profete voor julle net so vervolg.”

‘n Mens bring enige offer wat jy moet bring makliker
as jy dit bring vir iemand wat jy liefhet. Maar dit is nie
ten diepste ons liefde vir Jesus wat ons groter
bereidheid sal gee om vir Hom te ly en te offer nie.
Ons liefde bly maar gering en gebrekkig. Dit is die Here
se liefde vir ons wat ons dryfveer en drang is.
Die liefde van God dring ons. In die Bergrede neem
Jesus ons na hoogtes waar “plig” ons nie sal dwing nie.
Maar die liefde van die Here vir ons sal ons dring!
“Die liefde van Christus dring ons omdat ons tot die
insig gekom het...” – 2 Kor. 5:14.

Christene is profete, en profete is nie gewild in die
wêreld nie. Maar ons is nie geroep om gewild te
wees nie. Ons moet vervolging verwag en verdra.
Daardeur groei ons ook in ons geloof en ontvang ons
ook bevestiging van die egtheid van ons roeping en
ons dissipelskap.
Maar onthou: moenie moeilikheid soek ter wille van
lyding en vervolging nie. Dit is nie die gesindheid van
Jesus nie. Leef eenvoudig die Woord van God uit in
sy volle konsekwensies, met die gesindheid van Jesus
Christus as basis. En onthou dan sy woorde:
“Wees bly en verheug, want julle loon is groot
in die hemel.

Ernest