Indien die wêreld en sy mense aan homself
oorgelaat sou word, sou dit eenvoudig vergaan.
Dit geld veral die mens wat eenvoudig in totaliteit
in die verderf sou stort as dit nie vir die genade van
God was nie. Bederf sou lei tot verderf.
Daarom sê Jesus vir sy dissipels:
“Julle is die sout vir die aarde” – Matteus 5:13.
Soutloos en smaakloos gaan saam. Nie net in kos nie,
maar ook in die wêreld. ‘n Christenlose samelewing
en soutlose kos is ewe laf en smaakloos. Christene is
vir die samelewing wat sout vir kos is. Smaakgewend!
Maar dit is ook meer. Dit is bederfwerend. Soos sout
bederf teëwerk, só is dit ook met die Christene vir en
in die wêreld.
Wat is ons roeping as die “sout vir die aarde?
Ons het ‘n smaakgewende en bederfwerende roeping
en taak. Soos sout bederfwerend en smaakgewend op
kos inwerk, so moet ons op die samelewing inwerk.
Ons verbondenheid aan Christus bepaal en kleur ons
denke en dade. Ons neem as Christene deel en oefen
‘n invloed uit op die politieke-, ekonomiese-, en
moraliteits debat. Ons neem aktief en lewens-
veranderend deel aan die totale lewe. Ons is sout!
Met ons deelname werk ons bederf teë.
Met ons deelname gee ons smaak en betekenis,
sin en waarde.
Die ramp wat sout kan tref, is dat dit kan verslaan.
Dan is dit vir niks meer goed nie. Dan het sout sy
kwaliteit verloor wat dit juis sout maak! Sout se een
belangrike kenmerk is sy essensiële andersheid.
Die sout is ánders as die voedsel waarin dit geplaas
word om smaak te gee of verrotting te voorkom.
Die waarde van sout lê in daardie skoon en kragtige
Andersheid van sout! Dit is juis dít wat die Christen
die sout van die aarde maak. Sy skoon en kragtige
andersheid! Sodra ‘n Christen wêreldgelykvormig
lewe, verloor hy krag en invloed om bederf teë te
werk en smaak te gee. Dan is ons soos sout wat
verslaan het. Dit word buitekant weggegooi en die
mense vertrap dit, sê Matteus 5 vers 13.
Die mense sal ons belydenis en getuienis vertrap
as ons nie meer die sout is wat God bedoel nie.
Verslaande sout. Nutteloos. Sonder krag.
Hoe lyk jou soutkrag?
Is dit smaakvol en bring dit verandering?
Werk dit bederf teë?
Gee ek smaak aan woorde soos eerlikheid,
bedagsaamheid, naasteliefde, produktiwiteit,
getrouheid, omgee...?”
Is jy smaakgewend en bederfwerend in jou kring waar
die Here jou vertrou om verskil vir Hom te maak?
Sout vir die aarde...! Die Here se sout!
Ernest