“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê,
kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie
‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n
lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis.”
– Matteus 5:14-15.

Die wêreld roem graag op sy “verligting”.
Die twintigste eeu sou ‘n wonder-eeu wees. Daar sou
‘n einde aan oorloë gemaak word. Vir elke kwaal sou
‘n geneesmiddel gevind word. Alle onderdruktes sou
vrygemaak word. Die menslike “verligting”,
sy verstand en rede, sou dit alles moontlik maak.
Ons weet dit het nie gebeur nie. Die wêreld het in baie
opsigte ‘n donker plek gebly, ten spyte van al die
menslike “verligting”. Ons leef in ‘n wonderlike tyd,
en dikwels ook nog in ‘n donker tyd.
Ons het al maan toe gevlieg, en oorweeg nou Mars,
maar ons kry nie op aarde in vrede met mekaar
geleef nie! In hierdie wêreld, sê Jesus, is ons nou
“die lig vir die wêreld”.

Die beeld is opsigself duidelik. Die “sout”-beeld van
die vorige vers laat die klem val op die “verborge”
aanwesigheid van die gelowige. Hier val die klem
nou met die “lig” beeld op ons “openbare”
teenwoordigheid as gelowiges in hierdie wêreld.
Lig moet skyn. Hoe dan anders? Wanneer ‘n lamp
brand word sy lig gesien. Daarvoor is die lamp tog
aangesteek. Dit bots met alle logika om ‘n lamp aan
te steek en dan onder iets weg te steek.
Lampe word selfs op staanders geplaas om nog
beter lig te gee. So met ons as gelowiges!
Ons openbare sigbaarheid en getuienis moet sterk
en liggewend wees!

So moet dit nou met Christus se volgelinge wees.
Hulle is “onwegsteekbaar” Christus se dissipels.
Waarom is Christene die lig vir die wêreld?
Die grootste rede is omdat hulle dié Lig in hulle
harte dra. Jesus sê self in Johannes 8:12:
“Ek is die lig vir die wêreld; wie My volg,
sal nooit in die duisternis wandel nie, maar sal
die lig hê wat lewe gee.” Christene het nie lig uit
eie krag nie. Soos die maan nie sy eie lig het nie,
maar die lig van die son weerkaats, so moet
Christene die lig van die Here Jesus weerkaats.
Christus is die lig, en Christene is vanweë hul
verbondenheid aan Christus ook lig vir die wêreld.

Soos ‘n stad op ‘n berg is ons opsigtelik in die donker.
Die wêreld moet ons nie kan miskyk nie. Ons moet
ook in die openbaar wees wat ons is in die verborge is.
Ons moet in die wêreld wees wie ons in ons
binnekamer by die Here is. Sout wat geproe word,
en lig wat gesien word!
Smaakgewend, bederfwerend, liggewend.

Ernest