Ons gee lig! Die Here Jesus sê:
“Julle is die lig vir die wêreld”.
Ons “is” dit! Dit is baie belangrik.
Christene is vir die wêreld wat lig vir die donker is.
Lig in die donker maak ‘n enorme verskil. Lig verdryf
donkerte. Donkerte kan ook nie lig uitblus nie!
Daarom bring lig hoop in duisternis. Waar lig is kan
geleef word.
Maar nou kan lig weggesteek word. Dit is juis die groot
gevaar by ons wat die lig vir die wêreld moet wees.
Daar is baie Christene wat die Lig het, en hul lig kán laat
skyn, maar sover dit húlle aangaan, kan die wêreld om
hulle maar in die donker bly rondtas. Christene wat
ongehoorsaam, selfsugtig, en ontrou aan die Here is ten
opsigte van hul roeping om hul lig te laat skyn. Jesus het
ons nie sy lig gemaak om onder ‘n maatemmer geplaas
te word nie.
Jesus leer ons ook ‘n verdere waarheid oor lig wat nie
weggesteek moet word nie: “’n Stad wat op ‘n berg lê,
kan nie weggesteek word nie.”- Matteus 5:14. ‘n Stad is
‘n hele versameling van ligte.
‘n Gemeenskap van gelowiges is so ‘n versameling van lig.
Ons is nie geroep om net deurlopend alleen die lig vir die
wêreld te wees nie, maar ook om gesamantlik as
geloofsgemeenskap ons lig in die wêreld te laat skyn vir
die Here. Ons moet saam hande vat. Die gemeente moet
soos ‘n stad op ‘n berg sy lig laat skyn! Ons verskil wat
ons met ons getuienis-lig maak moet soos ‘n berg uitstaan
op die vlaktes van die wêreld. Dit moet onmoontlik wees
dat mense nié deur ons die Here sien in die lig nie!
Dit is ons uitdaging in die konteks waarin die Here jou
stuur om sy verteenwoordiger te gaan wees!
In baie mense se lewens het dit nag geword. Of hulle
het nog nooit die Lig gesien nie. Ons word deur die Here
gestuur om sy ligdraers te wees, wat mense na Hom toe lei.
Laat skyn jou lig!
Dwight L Moody gee ons soveel vrymoedigheid met
hierdie beeld: “As ons gewillig is dat Christus ons die lig vir
die wêreld maak, hoef ons dit nie te loop en verkondig nie.
Dit sal self wys. Vuurtorings gebruik nie kanonne om die
aandag op hulle te vestig nie. Hulle skyn net!” Skyn net!
Mense van God is hulle wat deur die donker wêreld stap
- en in hulleself die Lig dra! Jesus wil deur jou skyn!
Ernest