Die ewigheid is ‘n baie lang tyd.
Onberekenbaar lank. Ewig! Dit is waarheen
ons almal op pad is. Maar nou leef ons nog hier
op aarde. Tydens ons tydelike tydperk hier op aarde
leef ons om uiteindelik ook by ons uiteindelike
bestemming by God te wees. Van hier af stap ons al
saam met God na die ewigheid. Die pad wat ons hier
stap bepaal reeds die ewige pad.
1 Johannes 2:17 sê: “Maar die persoon wat doen wat
God vra se pad loop saam met God die ewigheid in.”
Dit laat ons besef dat dit nie uiteindelik alles oor die
aardse lewe gaan nie. Die aardse lewe is van korte duur.
Wat wel baie saak maak in die kort aardse lewe, is dat
ek hier reeds vir God lewe! Dit is die sin van die aardse
lewe en my bestaan hier op aarde.
Hier...is ek sy verteenwoordiger! Die besluite wat ek
nou neem het daarom nie net te doen met die lewe
van nou nie, maar ook met die lewe hierna. In hierdie
lewe van nou, moet ek myself voortdurend afvra:
Doen ek wat God wil hê ek nou moet doen?
Daarom waarsku Johannes die kinders van die Here
met vers 15: “Moenie na die pype van hierdie wêreld
dans nie. Moenie lief word vir die dinge wat vir die
wêreld belangrik is nie. As iemand dit doen, kan hy
mos nie sê dat hy lojaal teenoor die Vader is nie.”
Stadig en sonder dat ons dit besef kan wêreldse dinge
vir ons belangriker raak as God. Ander dinge word vir
ons belangriker as God se dinge. Johannes spel dit ook
verder uit met vers 16:
“Met wêreldse dinge bedoel ek dít: dit is begeertes
wat deur menslike en wêreldse dinge aangeblaas word
sonder om met God rekening te hou; dit is om alles wat
jou oë sien vir jouself te wil hê, en dit is om heeltyd net
met jouself en dit wat jy het te spog. Dié dinge kom nie
van die Vader af nie. Dit borrel op uit die fontein van
die wêreld.”
Moet ons nou as kluisenaars lewe? Allesbehalwe!
God het ons dan juis op aarde geplaas om sout en lig en
suurdeeg te wees!
Wat Johannes van ons vra is perspektief. Om te kan
onderskei waarop dit regtig aankom. Om te besef wat
is vir God belangrik. Om nie vasgedraai te raak in die
wêreld rondom ons nie. Kyk weer mooi wat sê
bogenoemde vers 16. Die keuse is om God se wil eerste
te plaas in alles. Die wêreld sal jou eenvoudig insluk as
jy nie wakker is nie!
Leef in die wêreld! Lééf! Voluit! Geniet dit!
Geniet die lewe! Dit is wat die Here vir jou as ‘n gawe
kom gee het! Maak egter seker dat dit jou nie van God
weglei nie. Dit...sal nie die ware lewe wees nie.
Leef die ware lewe!
Ernest