Hoe weet jy of jy altyd die regte ding doen?
Daar kom tog tye wanneer ons nie presies weet
of dit reg of verkeerd is nie. En al vra ons oral raad
is dit asof dit steeds vir ons grys bly. Alles is nie altyd
duidelik swart of wit nie. Om ons hiermee te help is
dit ook belangrik dat ons ten volle eienaarskap vir ons
besluite moet aanvaar. Dan maak ons ook groter erns
met die keuse self en raak ons nie maklik “blameshifters”
as iets verkeerd loop nie. Maak nie saak watter raad jy kry
nie, jy is steeds die een wat die besluit neem.
Daar is baie rolspelers wat ons kan help met besluite, soos
jou ouers, medegelowiges, vriende...
Maar die belangrikste is die Heilige Gees.
1 Johannes 2:20 word in Die Boodskap so vertaal:
“Die Heilige Gees het sy hand spesiaal op julle gelê.
Julle almal weet daarom wat vir God reg en verkeerd is.”
God het vir ons sy Gees gegee om te help onderskei wat
reg en verkeerd is.
In terme van keuses is dit tog uiters belangrike om ‘n lewe
saam met die Here te leef, onder leiding van die Heilige Gees.
So ontwikkel ons ‘n fyn aanvoeling vir wat reg en verkeerd is.
‘n Aanvoeling wat die Heilige Gees ons gee. Dit is waarom
Paulus dit ook beklemtoon in Romeine 12:1-2:
“...Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir
Hom aanneemlik is...Julle moenie aan die sondige wêreld
gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle
denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil
van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Die Heilige Gees sit vraagtekens in ons kop en wil ons lei.
Dikwels kry ons om die een of ander rede net nie vrede met
‘n besluit nie. Dit maak nie saak hoe goed ons argumente is nie,
die vrede bly net uit, en iets bly pla. Die Heilige Gees het in ons
kom woon om ons te help om as kinders van God te leef.
Wanneer jy nie vrede kry nie, maak seker of dit nie die Heilige
Gees is wat besig is om jou weg te lei van jou keuse nie.
Wanneer jy steeds worstel met die keuse, vra raad.
Vra medegelowiges, mense wat jy weet ‘n pad saam met
die Here stap. Bly bid daaroor.
En onthou, gebed is nie die laaste uitweg nie, maar die
beginpunt by keuses. Die Heilige Gees wil jou van die begin af
lei deur die Woord en gebed. Wanneer jy jou lewe skoei op die
beginsels wat jy in die Woord van God vind, en op ‘n pad wat jy
deurlopend met die Here saamloop, dan is ‘n totale oorgrote
persentasie van jou keuses reeds vooraf gemaak.
Ernest