Wanneer ons luister na ontledings van sport-wedstyde,
dan hoor ons dikwels dat die ontleders sê dit lyk of die
span nie ‘n speelplan het nie. Dit is net ‘n los getjommel.
Elkeen doen maar wat hy dink reg is. Daar is nie iemand
wat die rigting aandui en almal in dieselfde rigting laat
trek nie.

Vir ons as Christene is daar ‘n duidelike speelplan.
Die rigting waarin ons met ons lewe moet leef,
word duidelik aan ons uitgewys. 1 Johannes 2:24-25:
“Julle moet mooi luister: die oorspronklike boodskap wat
julle gehoor het, moet ‘n groot invloed op julle uitoefen.
As daardie boodskap aan julle lewe rigting gee, is dit eintlik
die Seun en die Vader wat julle beheers en rig. Wat hou
hierdie boodskap dan nou in? Dít: Jesus het julle ‘n nuwe
lewe saam met God kom aanbied.”

Die vraag is of jy regtig ‘n plan het vir jou lewe.
Kan ander mense die Here raaksien in jou lewe? Dikwels is
die probleem by ‘n sportspan dat hulle nie die “basiese dinge”
reg doen nie. Dan sê ons hulle moet terugkeer na die “basics”.
Dit is ook dikwels ons probleem in ons geestelike lewe.
Die oorspronklike speelplan. Vers 24 praat hier van
“...die oorspronklike boodskap at julle gehoor het,
moet ‘n groot invloed op julle uitoefen.”
Die vers sê dat daardie boodskap aan ons lewe rigting gee.
Ons moet weer die eenvoudige boodskap dat God sy Seun
en Gees gegee het, as die “speelplan” in ons lewe laat grondvat.
Dit is hoe God ons lewe wil bestuur en beheer. Dit is die basiese
van kind van God wees.
Dit beteken dat ons moet lewe soos Jesus gelewe het hier op aarde.
Dat ons lewe onder die beheer en leiding van die Heilige Gees.
Romeine 12:1 sê: Gee jouself! Gee jou lewe aan God as ‘n lewende
en heilige offer wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesentlike van
die godsdiens wat jy moet beoefen...die “basics”.
Gee jouself! Heeltemal vir God se lewensplan!

Ernest